Ook sal hy bang wees vir 'n hoogte, en verskriklike dinge sal op die pad wees! En die amandelboom sal in bloei staan, en die sprinkaan sal homself met moeite voortsleep, en die kapperkruid nutteloos wees; want die mens gaan na sy ewige huis, en die rouklaers sal op die straat rondgaan. Prediker 12:5
1 En dink aan jou Skepper in die dae van jou jonkheid voordat die ongelukkige dae kom en die jare aanbreek waarvan jy sal sê: Ek het daar geen behae in nie —
2 voordat die son en die lig en die maan en die sterre verduister word en die wolke terugkom ná die reën,
3 dié dag wanneer die wagters van die huis sal bewe en die sterk manne krom word en die malers die werk staak, omdat hulle te min geword het, en die wat deur die vensters kyk, verduister word,
"Net om te verwys na vers 1 tot 3, bring my na my eie lewe, waar ek tans is, waar mens eintlik geen behae het in die dinge van die wêreld nie, dat alles wat om jou aangaan eintlik maar net dryfsand geword het. Die wagters van die huis…sterk manne wat krom word, malers wat nie meer werk nie…dit is toepaslik gesproke verwysende na die tande wat min word of nie meer daar is nie, en die vensters wat verduister, verwysend na die sig wat jou verlaat. Die oë is die vensters van die siel!"
4 en die deure na die straat gesluit word, terwyl die geruis van die meul verswak; en hy opstaan as die voëltjies begin sing en al die tone van die lied dof sal word.
"Die geleidelike verswakking van die gehoor, vroeg opstaan, soos dit my lewens styl op die oomblik is, baie vroeg om te luister van die geluide van die voëlgesang in die koel oggend lug, as net die wind deur die blare ritsel en die wêreld nog slaap!"
5 Ook sal hy bang wees vir 'n hoogte, en verskriklike dinge sal op die pad wees! En die amandelboom sal in bloei staan, en die sprinkaan sal homself met moeite voortsleep, en die kapperkruid nutteloos wees; want die mens gaan na sy ewige huis, en die rouklaers sal op die straat rondgaan.
"Vrees, ja met die later jare is daar vrese, veral vir hoogtes, val of mistrap en die gevaar van beserings wat verskrikking bring! Die sprinkaan wat homself met moeite voorsleep, sien ons dit nie as ons kyk na die oumense nie? Die moeitevolle vorentoe beweeg, stadig met elke stappie kom inspanning!
Die bene is stram en die liggaam vol pyne. Ja, ons is oppad na ons ewige huis!"
6 Voordat die silwerdraad verwyder word en die goue oliekruik stukkend val en die kruik by die fontein gebreek word en die wiel stukkend in die put val
"Die silwerdraad, maak ek die vergelyking van die Gees wat teruggaan na die Een wat dit gegee het, en die fontein, is vir my die are wat versteen en die liggaam wat val vergelykend met die wiel wat val, geen dryfkrag meer nie!"
7 en die stof na die aarde terugkeer soos dit gewees het, en die gees na God terugkeer wat dit gegee het.
8 Alles tevergeefs, sê die Prediker, dit is alles tevergeefs
"Ja, die seisoene van die lewe gaan verby, die winter van jou lewe lê en loer vir jou en my in die skadus van ons lewe en wag vir die silwerdraad wat moet breek, terwyl die stof van aarde sy kake wyd sper om jou te ontvang – vanwaar jy gekom het, daarna sal jy terugkeer..inderdaad was alles maar net ‘n gejaag na wind, tevergeefs…"
sê die Prediker
Gas Skrywer : Nita Kearney
Comments