top of page

Die doel van Gebed


Biddende hande

Ons kyk na gedeeltes in die Skrif waar ons God se soewereiniteit in aksie kan sien, en spesifiek vanaand waar ons gebed in aksie kan sien.


Dit is onmoontlik om alle aspekte van die gebed in ‘n kort les weer te gee en daarom is die hoofdoel hiervan om ons verhouding met God in gebed te ondersoek en daardeur te fokus op Sy soewereiniteit. Om lig hierop te werp, sal ons fokus op Skrifgedeeltes uit die Woord waar ons Sy soewereiniteit in gebed sal sien. My doel van hierdie reeks is om saam met jou daardeur te werk, en om sekere aspekte in ons verhouding met God te ondersoek. Aspekte soos gebed, genesing en nog ander kwessies.

Ons fokus op die Skrif. Nie noodwendig wat ander al voorheen gesê het nie, of wat ek sê nie. Maar dit gaan oor wat die Bybel sê en wat die Bybel ons leer. Dit is my doel met hierdie les. So gaan ons kyk na gedeeltes in die Skrif waar ons God se soewereiniteit in aksie kan sien, en spesifiek vanaand waar ons gebed in aksie kan sien.


Vandag kyk ons dus na die huidige wêreld waarin ons lewe en die on-bybelse onderrig wat verkondig word oor God se soewereinteit. Die tendens vandag is om God se soewereiniteit tot ‘n “genie” in n bottel te verminder. Dit is gelykstaande aan om God se wil te beheer sodat Hy op ons versoeke reageer eerder as ons wat op God wag. Sy soewereiniteit word daardeur aangetas en ons verminder Hom na ‘n dienskneg wat wag op ons opdrag en dan daarvolgens te reageer.

Vandag, vind ons baie Christene en selfs potensiële Christene wat glo dat God gemanipuleer kan word. Dit is hulle siening want hullle het daarmee groot geword en dit word ook orals verkondig. Hulle denke is daarop gerig dat mens met God kan onderhandel en dat Hy selfs genoodsaak is om dan volgens ons wil te handel. Hulle geloofsoortuiging is dat God se wil buigsaam en veranderlik is om aan te pas by ons deur ons gebede.

Wanneer jy hulle egter vra wat gebeur wanneer hulle bid, glo ek nie hulle sal in soveel woorde erken: “ek verander God se wil” nie. Hulle mag dit dalk nie sê nie. Maar ek veronderstel dat baie mense, en sommige van u, glo dat ons in werklikheid God se doel en plan kan beïnvloed, soos dit op ons eie omstandighede betrekking het. Is dit miskien wat ons dink dat God se denke deur ons verander kan word?


Volgens die skrif het God ons opdrag gegee om te bid. Daar is baie verwysings in die Bybel, maar ons gaan na Filippense 4:6 kyk:

"Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God." Dit is ‘n duidelike opdrag uit die Skrif. Paulus gaan voort in 1Th 5:17  "Bid sonder ophou. "


Jas 5:16  "Bely mekaar julle misdade en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die vurige gebed van ‘n regverdige het groot krag."


Julle is sekerlik vertroud met hierdie skrif gedeeltes.

Ons weet dus dat ons veronderstel is om te bid. Christus Self het deur die evangelies tot Sy Vader gebid en in sommige gevalle die hele nag in gebed deurgebring. Gebed is dus nie net goed nie, dit is ‘n nodige vereiste as ‘n Christen. Indien jou gebedslewe nie voldoen aan die Bybelse voorskrif nie, word dit gesien as ongehoorsaamheid. ‘n Karaktereienskap van 'n Christelike lewe wat sonder insig is. Ons weet immers ons moet God soek vir die behoeftes wat ons het. 


Beteken dit dan dat God ons versoek om tot Hom te bid, juis sodat Hy Sy gedagtes volgens ons behoeftes sal verander? Baie Christene sou sê: “Ja.” God moet sy gedagtes kan verander, anders, wat is die doel van gebed dan? Hoekom dan bid, tensy dit God se gedagtes verander? Miskien het julle ook daardie siening gehad?


Num 23:19  "God is geen man dat Hy sou lieg nie; of ‘n mensekind dat dit Hom sou berou nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, of spreek en dit nie waar maak nie? "


1Sa 15:29  "En ook lieg die Roem van Israel nie, en Hy ken geen berou nie; want Hy is geen mens, dat Hy berou sou hê nie. "


En daar is ander wat ek jou kan noem, maar dit is duidelik. God verander nie Sy gedagtes nie.

In die vers uit Númeri praat God deur Bíleam tot Balak en verklaar hy dat God se opdrag onveranderlik is,, dat hy Israel gaan seën en verhoed dat hulle vervloek sal word. Hy kan dit nie keer nie. God verander nooit Sy gedagtes soos 'n mens geneig is om te doen nie. In ‘n ander vers, in 1 Samuel, lees ons van die profeet Samuel wat vir Saul sê dat hy sy troon aan 'n beter man gaan afstaan — aan Dawid. Saul het nie daarvan gehou nie, maar Samuel het aan Saul gesê: God kan nie van plan verander nie.


Hierdie verse noem nie alleenlik dat God nie sy gedagtes verander nie, maar verduidelik ook hoekom: God is nie 'n mens nie. God is nie 'n man nie. God bestaan nie soos 'n mens bestaan nie. God is nie binne-in Sy skepping nie; Hy is nie gebind deur tyd soos ek en jy nie.

As jy n soortgelyke ondervinding gehad het, sal jy verstaan hoekom God nie Sy gedagtes verander nie. Byvoorbeeld wanneer ek na jou toe sou kom en sê: Ek belowe om jou huis gratis te verf. Jy sou opgewonde en dankbaar wees. Dan gaan 'n week verby en ek daag nie op nie, en natuurlik, het jy nogsteeds ‘n verwagting, maar nou twyfel jy 'n bietjie of ek regtig sal doen wat ek belowe het na verloop van tyd.

Ek het nooit ‘n datum gegee toe ek die belofte gemaak het nie, en jy het geen manier om regtig te weet wanneer dit gaan plaasvind nie. Maar die feit dat 'n week reeds verby is, is genoeg om jou 'n bietjie te laat twyfel. Dan gaan 'n maand verby en ek daag nie op nie. Op hierdie stadium is jy redelik seker dit gaan nie gebeur nie..

Wat het regtig verander? Hoekom begin ons aan die belofte twyfel? Ek het nie my belofte teruggetrek nie. Hoekom dan die twyfel of ek my belofte gaan nakom bloot omdat 'n maand verby is?

Ons twyfel eerstens omdat ons die menslike natuur ken. En tweedens omdat ons instinktief weet dat tyd enige belofte se vyand is. Tyd bring verandering. Tyd bring die geleentheid om ‘n belofte te heroorweeg. Tyd gee geleentheid vir omstandighede om te verander.


Miskien word ek siek of verloor my werk, of het ek nie meer die geld om te doen wat ek belowe het nie. Miskien het ek van plan verander. Wat ook al die belofte beinvloed het, word toegeskryf aan tyd. Wanneer die tyd verbygaan, begin ons in ‘n belofte twyfel omdat ons aanvaar iets het verander.

Maar God is nie tydsgebonde nie - Hy bestaan in die toekoms net soos Hy in die hede bestaan. Trouens, niks is nuut vir God nie. Hy is alwetend en word nie beiinvloed nie, alles is onder Sy beheer.

Daar is eenvoudig geen rede vir God om anders te handel of te dink as wat Hy vandag doen nie, want Hy het alreeds alles in oorweging geneem toe Hy die belofte gemaak het. Hy ken reeds die woorde wat jy gaan gebruik in die gebed toe jy iets aan Hom gevra het. Hy het daardie besondere woorde van jou gebed oorweeg toe jy dit gebid het.

Onthou die woorde van Christus in Mat 6:7-8   "En as julle bid, gebruik nie ‘n ydele herhaling van woorde soos die heidene nie, want hulle dink dat hulle deur hul baie woorde verhoor sal word. Moet dan nie soos hulle word nie, want jul Vader weet wat julle nodig het voordat julle Hom vra."


Wanneer jy tot Hom bid, is dit nie iets wat Hy nog nie gehoor of nie reeds weet nie. Omdat God buite ons tydsverband leef, verander tyd Hom nie. Daarom kan ons Sy gedagtes nie verander nie.

Waarom bid ons dan tot 'n soewereine God as dinge nie deur gebed verander kanword nie? As jy tot God gebid het omdat jy gedink het jou gebede sal Sy gedagtes verander, dan wonder jy miskien of daar nog enige doel is daarin om te bid.

En dit bring ons by vanaand se Skrifgedeelte. Ons lees uit Génesis 18.

Vir agtergrond, gaan na die middel van die hoofstuk. Daar vind ons Abraham en Sarah. Op hierdie stadium woon hulle reeds vir ‘n geruime tyd in Kanaän. In hoofstuk 18, onthaal hulle gaste, en spesifiek drie mans. Drie manne wat na hulle toe gekom het en vir hulle fantastiese nuus gebring het. Hulle het vir Abraham en Sarah gesê dat hulle binne ‘n jaar 'n seun sal hê. 'n Seun wat hulle Isak sal noem.

Abraham het nie geweet wie hierdie drie besoekers was nie, ten minste nie op daardie stadium nie. Ons vind egter uit, deur die teks dat hierdie drie mans, eintlik twee engele en Jesus Self is, (die Here Self voor Sy eers vleesgeworde koms.) Abraham sien 3 manne, maar in waarheid is dit 2 engele en Christus.

En as Abraham klaar is met die onthaal van hierdie drie manne het hulle op gestaan om sy tent te verlaat. Ons lees verder vanaf vers 16:


Gen 18:16  "Toe staan die manne daarvandaan op, en hulle het gekyk na die kant van Sodom; en Abraham het saam met hulle gegaan om hulle weg te bring. 

Gen 18:17  Daarop sê die HERE: Sal Ek vir Abraham verberg wat Ek gaan doen, 

Gen 18:18  terwyl Abraham tog sekerlik ‘n groot en magtige nasie sal word en al die nasies van die aarde in hom geseën sal word? 

Gen 18:19  Want Ek het hom verkies, dat hy aan sy kinders en sy huis ná hom bevel sou gee dat hulle die weg van die HERE moet hou om geregtigheid en reg te doen; sodat die HERE oor Abraham kan bring wat Hy oor hom gespreek het. 

Gen 18:20  Verder het die HERE gesê: Die geroep oor Sodom en Gomorra is waarlik groot, en hulle sonde is waarlik baie swaar. 

Gen 18:21  Ek wil neerdaal en sien of hulle werklik gehandel het soos die geroep oor hulle is wat by My gekom het; en so nie, Ek wil dit weet. 

Gen 18:22  Toe het die manne daarvandaan weggedraai en na Sodom gegaan, maar Abraham het nog bly staan voor die aangesig van die HERE. "


Terwyl die 3 manne gereed gemaak het om Abraham te verlaat, maak die Skrif melding daarvan dat God met Homself gepraat het sonder dat Abraham dit kon hoor. Die woorde in verse 17, 18 en 19: maak melding daarvan en dit is hier opgeteken omdat God deur Moses ons wou laat weet wat hier gebeur het.

God het 'n interessante vraag gevra. Hy sê: Sal ek vir Abraham geheim hou wat ek gaan doen? Soos die res van die storie verduidelik, is dit regtig 'n retoriese vraag, een wat God nie direk beantwoord nie. Dit is eintlik 'n verklaring en Sy stelling is “Ek sal nie vir Abraham wegsteek wat ek gaan doen nie. Ek gaan nie wegkruip nie. Ek gaan aan Abraham onthul wat ek gaan doen.” God is vasbeslote om Abraham in te lig. Om die omstandighede te verstaan wat God gaan doen, moet ons die agtergrond bestudeer.

Nie baie Christene is bekend met die verhaal van Abraham nie. Abraham woon buite die stad. Hy leef die lewe van 'n swerwer. Trouens, Hebreërs noem hom 'n swerwer. Hy het 'n tent en 'n kudde maar hy is nie deel van enige stad nie, al is daar stede rondom hom, verkies hy hierdie nomadiese lewenswyse.

Toe hy baie jare vroeër deur God gevra is om sy vaderhuis te verlaat, het hy Ur verlaat en begin trek na ‘n plek wat God hom sou wys. Daardie roeping wat God die dag aan Abraham gegee het, het 'n baie spesifieke opdrag ingesluit. Hy moet sy familie agter laat, nie sy vrou nie, want as 'n getroude paartjie was hulle een vlees. Sekerlik moet enige ander familie agterbly. Dit was die opdrag.

Abraham gaan weg, maar hy besluit om familie te bring ten spyte van God se opdrag. Hy bring 'n neef met die naam Lot. Lot se vader het gesterf kort voor Abraham hierdie opdrag ontvang het, so wettiglik was Abraham waarskynlik aanspreeklik vir Lot. Dit is gou duidelik hoekom God in sy wysheid hierdie opdrag gegee het, omdat Lot probleme sou veroorsaak. Van dag een af is Lot 'n moeilike persoon. Ons sien dat Lot in die begin stadium in die land met Abraham meeding om die beste beskikbare weiding vir sy diere te kry. Dit ontaard in 'n punt van spanning tussen al die herders met diere, en uiteindelik besluit hulle om weg te gaan. Abraham sê vir Lot baie genadiglik, “Jy kan kies waar jy wil gaan. Jy kry eerste keuse.” En Lot kyk na die stad Sodom, 'n stad wat waarskynlik baie aanloklik is vir iemand wat maklik verlei word. Hy verkies om laer te slaan net buitekant die stad Sodom. Uiteindelik lees ons dat Lot later in die stad intrek. Die aantrekkingskrag word teveel en hy moet net nader aan die aksie kom in die stad.

Abraham se probleme met Lot gaan aan in hoofstuk 14. Hier vind jy uit dat daar konings uit die Noorde is onder leiding van koning Kedor-Laómer. Hy was ‘n groot gees in daardie tyd. Hy het Kanaän saam met hierdie ander konings binnegeval. Hulle plunder stad na stad. Toe hulle by Sodom kom, neem hulle die stad gevange en plunder dit. Die hele volk is as slawe weg geneem, en hierdie koning en sy leër ry uit die stad nadat als in die stad Sodom geplunder is.

Iemand wat die inval oorleef kom vertel vir Abraham: “jou neef Lot en sy gesin is deur hierdie konings gevange geneem”. Abraham doen die enigste ding wat hy kan doen vir 'n familielid - hy neem 318 van die beste manne wat hy het, ry na Damaskus agter die koning aan, uiteindelik haal hy hom in, verdeel sy magte met goeie militêre strategieë, en begin aanval. Met God se hulp is Abraham suksesvol. Abraham bring die hele gesin terug, asook die burgers van die stad van Sodom. Daar is meer besonderhede daar rondom wat jy kan lees. Hierdie is slegs ‘n opsomming.

In hoofstuk 18 is God gereed om in geregtigheid teen Sodom op te treë met Lot nou terug in die stad. Maar voordat God optreë, sê Hy retories: “Ek wonder, sal ek vir Abraham geheim hou wat ek gaan doen?”


‘n Paar dinge wat jy wel moet ingedagte hou soos ons aangaan. Eerstens, God se plan is vasgestel. Sy vasberadenheid is vas: Sodom sal geoordeel word, dit moet so wees. Sy karakter vereis geregtigheid en Sy heilige doel is om van Sodom vir alle tye 'n voorbeeld te maak. 2 Petrus vertel ons dit duidelik:

2Pe 2:6  "en deur die stede van Sodom en Gomorra tot as te verbrand, hulle tot ondergang veroordeel het en as ‘n voorbeeld gestel het vir die wat in die toekoms goddeloos sou wees;"


Dit was nog altyd Sy plan. Ek dink dat Christene dikwels vergeet, net soos Abraham in sy tyd gedoen het, dat God voortdurend aan die werk is in hierdie wêreld rondom ons. Hy is nou besig met jou en Sy volharding is om hierdie werk aan julle bekend te maak, aan Sy kinders, en hulle uit te nooi om saam met Hom deel van hierdie werk te wees. Ons kan net onsself blameer as ons die geleenthede misloop om deel daarvan te wees.

Met elke geleentheid wat ons aangryp, sal Vader ons oprig in Sy weë - net soos God op die punt is om met Abraham hier te doen. God se rede om Abraham by Sy plan in te sluit, is omdat God Abraham gekies het as 'n mens deur wie Hy baie nasies sal voortbring en deur wie God baie nasies sal seën.

God vereis dat Abraham, 'n voorbeeld moet wees vir daardie geslagte. Iemand wat in Sy weë wandel, al Sy gebooie onderhou en meer as dit, Sy kinders grootmaak om dieselfde te doen. Dit is God se plan vir Abraham. En wat Hy sê is: “Ek is vasbeslote om Abraham te leer sodat hy hierdie doelwitte sal vervul, soos Ek hom gaan leer, sodat hy deel van die plan kan word. Dinge wat Ek rondom hom gaan doen sodat daar voordeel daaruit kan kom.”

Weet jy dat ons Vader in die hemel presies dieselfde doen as wat enige goeie Vader hier op aarde sou doen? Een van my gunsteling voorbeelde hiervan is die pa wat 'n jong kind het, kom ons sê, 'n seun in hierdie geval, miskien sowat ses of sewe jaar oud. En die vader is op die punt om uit te gaan na die motorhuis om aan sy motor se enjin te werk. En hy vra vir die seun terwyl hy uitloop. “Seun, wil jy my graag kom help om die motor reg te maak? En die seun sê: “Sekerlik, Pappa.” Nou, wat indien hy nee gesê het?. “Nee, ek is te besig om TV te kyk.” Of “Ek is nou besig. Dis nie iets wat ek regtig voel om nou te doen nie, Pa.” En miskien los die pa hom. Wie het nou eintlik verloor?

Maar vir die seun wat sê: “Ja, ek wil jou help, Pappa. Ek wil deel daarvan wees,” sê Pappa, “Wonderlik! Kom uit motorhuis toe, seun.” En hy maak die enjin oop. Hy begin om te werk aan die motor. En Hy sê: Kind, gee my die sleutel, en die seun gee hom 'n skroewedraaier. “Nee. Nee, seun. Dis die ander een, Nee, die ander een, Hier, laat ek dit kry, Hierdie een.” En dan begin die seun te sê: “Wel, Pappa, laat ek dit doen!” “Goed, sit jou hand op die sleutel. Probeer om dit te draai.” Niks gebeur nie. “Hier, probeer nou. Kyk, seun, jy het dit gedoen!” En voor jy dit weet, het die Pa en seun die motor herstel.

Nou, laat ek jou iets vra: Dink jy dit het langer geneem omdat die seun gehelp het of korter? Dink jy miskien dit was vir die Pa 'n bietjie moeiliker en ingewikkelder as wat dit andersins sou gewees het? Dink jy hulle het dalk meer foute gemaak as wat hulle kon gemaak het as die seun nie betrokke was nie? So hoekom het die Pa dit dan gedoen? Wat baat dit om iemand saam te bring wat die werk moeiliker maak?

Dit maak perfek sin as jou doel is om die seun te leer. Ons hemelse Vader werk nie anders met Abraham en met ons as wat ons met ons eie kinders werk nie. Hy maak die seun, Sy kind Abraham, deel van Sy plan, maar Sy plan hang nie van Abraham af nie en Hy het nie Abraham se hulp nodig nie. Maar “Sal ek vir Abraham geheim hou wat ek nou gaan doen?” Dit is gelykstaande aan die pa wat vir die seun sê: “Nee, seun, jy kan nie weet wat ek in daardie motorhuis gaan doen nie. Bly hier en kyk TV.” Dis nie liefde nie.

Hierdie is liefde: God maak Sy plan aan Abraham bekend om te gaan en Sodom te besoek en te bepaal of dit so sondig is soos wat Hy gehoor het dit is. Nou natuurlik het God geweet hoe sondig Sodom is. Hy sou (deur daardie engele) na die stand van sake in Sodom gaan kyk. Sy doel om die stelling te maak, is natuurlik tot voordeel van Abraham sodat Abraham sou weet waarby God betrokke is.

 

God het geweet wat Hy in Sodom sou vind maar Hy wou hê dat Abraham moes deel wees van die werk wat God beplan het.

Kyk na Abraham se reaksie op God se woorde. Abraham weet dat Sodom boos is. Inteendeel, Sodom se reputasie is so erg dat die hemel daarvan bewus is, so sekerlik sou Abraham wat nie te vêr daarvan is nie ook bewus wees van wat in Sodom aangaan. Selfs vandag gebruik ons die term “Sodom en Gomora” om na 'n bose plek te verwys.

Abraham is natuurlik ook bewus daarvan dat sy neef Lot in daardie stad woon; en daarom is twee dinge onmiddellik vir hom duidelik. Terwyl hy die woorde van God hoor, sê hy vir homself: My neef gaan saam met daardie stad tot niet gaan..

En so reageer hy met een van die mees dramatiese voorbeelde van gebed wat ons in die Bybel aantref. Moenie ‘n fout maak nie, die volgende gedeelte is ‘n gebed. Dis 'n petisie wat voor die Here geplaas word deur 'n man wat na God se guns verlang. Jy en ek mag dalk voel asof ons in 'n kas bid, waar die Here afwesig is, maar in Abraham se geval staan hy wel voor iemand wat soos 'n man lyk. Dit bly egter nogsteeds ‘n gebed. Kom ons lees Génesis 18 vanaf vers 23:


Gen 18:23  "En Abraham het nader gekom en gesê: Sal U ook die regverdige saam met die goddelose ombring? 

Gen 18:24  Miskien is daar vyftig regverdiges binne-in die stad; sal U hulle ook ombring en die plek nie spaar ter wille van die vyftig regverdiges wat daarin is nie? 

Gen 18:25  Laat dit ver van U wees om so iets te doen: om die regverdige saam met die goddelose om te bring, sodat die regverdige gelyk is met die goddelose. Laat dit ver van U wees! Sal die Regter van die ganse aarde geen reg doen nie? 

Gen 18:26  Toe sê die HERE: As Ek in Sodom vyftig regverdiges vind binne-in die stad, dan sal Ek die hele plek spaar om hulle ontwil. 

Gen 18:27  En Abraham antwoord en sê: Kyk tog, ek het dit gewaag om met die Here te spreek alhoewel ek stof en as is. 

Gen 18:28  Miskien sal daar aan die vyftig regverdiges vyf ontbreek; sal U ter wille van vyf die hele stad verwoes? En Hy antwoord: Ek sal dit nie verwoes as Ek daar vyf en veertig vind nie. 

Gen 18:29  En hy het nog verder met Hom gespreek en gesê: Miskien sal daar veertig gevind word. En Hy antwoord: Ek sal dit ter wille van die veertig nie doen nie. 

Gen 18:30  Verder sê hy: Laat die Here tog nie toornig wees nie, en mag ek nog iets sê. Miskien sal daar dertig gevind word. En Hy antwoord: Ek sal dit nie doen as Ek daar dertig vind nie. 

Gen 18:31  Toe sê hy: Kyk tog, ek het dit gewaag om met die Here te spreek. Miskien sal daar twintig gevind word. En Hy antwoord: Ek sal dit ter wille van die twintig nie verwoes nie. 

Gen 18:32  Toe sê hy: Laat die Here tog nie toornig wees nie en laat my net hierdie keer mag spreek. Miskien sal daar tien gevind word. En Hy antwoord: Ek sal dit ter wille van die tien nie verwoes nie. 

Gen 18:33  En die HERE het weggegaan toe Hy opgehou het om met Abraham te spreek, en Abraham het na sy woonplek teruggekeer. "


Abraham is nogal ‘n onderhandelaar! Abraham soek aanvanklik 'n manier om God se aandag te kry, nadat hy gehoor het wat God beplan. En hy doen dit op die regte manier. Hy doen 'n beroep op God se karakter, en Sy natuur. God sal nooit teen Sy heilige en volmaakte natuur optree nie; dit kan Hy nie doen nie. En Abraham het geweet wat ons almal moet weet, naamlik, as ons Hom iets vra, dat ons gewaarborg is dat ons gebed nie beantwoord sal word indien dit teen Sy natuur en Sy karakter is.

Maar as ons God se wil volgens Sy natuur op 'n korrekte manier soek, en 'n beroep doen op God se volmaakte genade en Sy geregtigheid, sal ons Sy aandag kry.

30:52

God sal die regverdiges, wat in geloof handel, bewaar en die onregverdiges, wat sonder geloof handel oordeel. Trouens, in daardie selfde gedeelte uit 2 Petrus wat ek vroeër gelees het, is hierdie gedeelte in Genesis‘n bewys dat God presies dit doen - dat God die regverdiges red terwyl hy die onregverdiges onder straf hou vir die Dag van Oordeel. Petrus verwys na Genesis 18 dat dit wel so is.

Na die beroep op God se karakter, begin Abraham om te onderhandel met God.

Eerstens, sê hy, wat as hy 50 regverdiges vind? Jy lees die storie saam met my: vanaf 45, af na40, 30, 20, 10. Hy bring die getal af en probeer om te onderhandel ter wille van die stad Sodom.

Abraham wou nie noodwendig Sodom bewaar sien nie, hy is nie 'n man wat die ongeregtigheid van daardie stad wil sien voortduur nie.

Waarom gee hy dan om? Vir Lot en sy gesin! Waarvoor bid hy vir die stad Sodom?. Abraham, blyk dit, was huiwerig om te vra wat hy werklik wou hê. Dis amper asof hy God nie kon vertrou om hom te gee wat hy vra nie. Hy moes op ‘n ander manier onderhandel om dit te kry wat hy graag wou hê.

Abraham vrees dat die enigste regverdige familie in daardie stad sy neef, Lot en syfamilie kan wees. Dit is waarvoor hy regtig bang is en daarom onderhandel hy tot by 10. En hier is wat ek dink hy veronderstel het: Lot se uitgebreide familie, kon sowat 7 of 8 mense gewees het. Die Nuwe Testament verwys na Lot as ‘n regverdige man. So Sekerlik sou ‘n regverdige man soos Lot na al die tyd wat hy daar in die stad deurgebring het, iemand moes beïnvloed het.

Trouens, ons hoor in die verhaal van Lot dat hy in die poort van die stad sit. Dit beteken In antieke tye is dit gelykstaande aan om 'n regter te wees, om 'n administrateur in die stadsregering te wees. Hy is 'n prominente persoon in Sodom, Hy het homself bevorder. Erêns, in die verloop van tyd, moes hy iemand beïnvloed het. En so neem Abraham waarskynlik aan dat 10 naby genoeg is; 10 sal verseker dat daardie stad gered word.

Wel, soos die storie ontvou, het die engele opgedaag. Hulle doen wat God gesê het Hy sal doen. Hulle gaan in en inspekteer die stad en, natuurlik, wat vind hulle? Hulle vind 'n verdorwe stad, 'n stad met geen hoop nie, en hulle vind Lot in 'n posisie van prominensie in daardie stad.

Abraham bid intussen terwille van die stad op grond van die 10 regverdiges - 10 wat deels uit Lot se familie kom en gedeeltelik waarskynlik bestaan uit mense wat Lot beïnvloed het.

Hoekom het hy egter by 10 gestop? Weet jy dat hy opgehou het om te vra voordat God saam gestem het? Wat as hy vra vir 5? Wat as hy gevra het vir 1? Daar is geen aanduiding dat God sou ophou om saam te stem nie. Hoe dikwels doen ons nie dieselfde ding nie? Hoe gereëld bid ons oor ons persoonlike behoeftes waarvan sommige daarvan selfsugtig is en ons vra nie eintlik wat ons regtig wil hê nie. Hoekom? Want dan gaan ons dwaas lyk. Want ek behoort nie eintlik vir die mooi kar te vra of dat ek die lotto sal wen nie. Dis net nie Christelik reg nie, daarom vra ek vir ander goed en hoop dat ek dit in elk geval sal kry.

En God stem in tot 'n mate met dit waarvoor ons vra. Ons vra nooit werklik vir die regte ding nie, en daarom weet ons nooit werklik wat Hy gaan doen en hoe Hy gaan reageer nie. Ons behoort eerlik te wees met God omdat Hy alwetend is.

Het God se gedagtes verander vanweë die gebed van Abraham? Want dit is die vraag vir vanaand. Het Abraham God van plan laatverander?

om van die storie op te som ter wille van die tyd, het die engele wel na Sodom gegaan. Hulle vind wat hulle geweet het hulle gaan vind - groot verdorwenheid. En dan waarsku hulle Lot. Hulle sê vir Lot: “Gaan weg en neem al jou familie saam met jou, want die stad gaan uitgewis word.”


Hulle gee Lot een nag om sy vrou en sy dogters en sy toekomstige skoonseuns te oortuig, en Lot gaan voort om sy bes te probeer. Die skoonseuns wil niks daarmee te doen hê nie, maar sy vrou en dogters lyk asof hulle gereed is om te gaan. Ons gaan terug na die verhaal in Genésis 19:15 - 17

Gen 19:15  "En toe die dag begin breek, het die engele by Lot aangedring en gesê: Maak jou klaar, neem jou vrou en jou twee dogters wat by jou is, dat jy weens die ongeregtigheid van die stad nie omkom nie. 

Gen 19:16  Maar hy het nog getalm. Toe gryp die manne hom en sy vrou en sy twee dogters aan die hand, omdat die HERE hom wou verskoon; en hulle lei hom uit en bring hom buitekant die stad. 

Gen 19:17  En toe hulle hulle na buite uitgelei het, sê Hy: Vlug vir jou lewe! Moenie omkyk nie, en moenie êrens in die Jordaanstreek bly staan nie. Vlug na die gebergte, dat jy nie omkom nie! "


Hoe hartseer is dit dat ‘n regverdige man soos Lot so aangetrokke sou wees tot so ‘n verdorwe wêreld? Selfs toe hy geweet het dat verblyf in die stad sy dood gewaarborg het, het hy nogtans gehuiwer.

Waarom help die engele in elk geval vir Lot? Het God Lot genoem? Ek onthou nie dat God iets aan Abraham oor Lot gesê het nie. En ons weet dat Abraham niks aan God oor Lot gesê het nie. Hoekom doen God wat Hy aan Lot en sy gesin dan doen? Hy het nie vir Lot se familie gevra om veilig te wees nie. Gaan God nie net hou by dit waarvoor Abraham gevra het en sodoende Lot in gevaar plaas nie?

Hoekom gaan Hy Lot red? Petrus verduidelik dat God weet hoe om die regverdiges uit versoeking te red. Want dit is Sy natuur en Sy karakter. Lot kon homself net nie dwing om weg te gaan nie, want die versoeking was te groot. Dit wat hy in Sodom gesien het. Hy was te ingenome met sy rykdom en sy genot. Net 'n woord van wysheid; dit kan ook ons probleem wees.

Maar getrou aan Sy woord, het God die engele Lot en sy gesin van versoeking laat vlug. Nou wil ek hê jy moet iets interessant sien: Waar het Lot en sy gesin beland? Waar het die engele hulle neergesit? Het die engele Lot en sy gesin geneem en hulle in veiligheid geplaas? Nee. Kyk na die teks: Toe hulle uit die stad geneemis, sê een van die mans: “Vlug vir jou lewe! Moenie omkyk nie”. (En natuurlik weet ons almal wat met Lot se vrou gebeur het.) “moet nêrens in die hele Jordaanstreek bly nie. Vlug na die berge, anders word julle meegesleur!”

Die engele het gedoen wat in 2 Petrus gesê is. Hulle het die regverdiges uit versoeking verwyder. In die middel van die vallei was hulle nogsteeds in gevaar en moes hardloop anders sou hulle ook sterf.

God sal beslis jou versoekings verwyder, maar Hy laat jou steeds stappe neem om van sonde te ontsnap. Hy verwag steeds dat jy aan daardie gehoorsaamheid moet voldoen, om van sonde af te vlug asook die gevare daarvan. Ons moet Hom na veiligheid volg. As jy dit nie doen nie, is jou lewe in gevaar, nie jou ewige lewe nie, maar hierdie lewe! Sonde het gevolge.

Terug na die kwessie van gebed. Het Abraham se gebed gewerk? Hy het vir die stad gebid. Hier is die voorwaarde; die stad sal gered word as tien regverdiges gevind word. Net vier is toe gevind en daarom is die stad dan verwoes. God het vir Abraham presies gegee waarvoor hy gevra het. “As jy 10 vind, is die stad gered. As jy nie 10 vind nie, sal die stad vernietig word.” Hy het gekry waarvoor hy gevra het, en hy het presies gekry wat God belowe het. En tog het God se plan om die stad te vernietig presies so ontstaan soos God dit beplan het selfs voordat Abraham gebid het.

Wat wou Abraham regtig hê? Hy wou Lot en sy gesin veilig hê al het hy nie daarvoor gevra nie, en tog is dit wat God hom gegee het. Onthou, God weet wat jy nodig het, selfs voordat jy vra - selfs al vra ons nie vir die regte dinge nie! God se karakter het vereis dat Lot en sy gesin gered word, soos Petrus ons in sy brief geleer het. En dit het gebeur of Abraham dit nou gevra het of nie.

So, wat was dan die doel van Abraham se gebed? Deur daardie gebed het God Abraham se wil gebuig en verander om meer bewus te raak van wat God se wil was.. God was van plan om Sodom te vernietig. God was van plan om Lot te red. En Hy het aangekondig dat Hy op so 'n wyse daarheen sou gaan dat Abraham in daardie plan sal belangstel en deur gebed daarby betrokke sou raak en God die heerlikheid sou ontvang. Deur die oë van die mens roep God Sy seuns in hierdie wêreld.

Het jy opgemerk hoeveel engele die stad binnegegaan het? Twee, in die gelykvormigheid van mense, elkeen het twee hande. God het geweet dat Hy vier huiwerige sondaars sou uitneem wat elkeen 'n hand van daardie twee engele sou nodig hê. God het van die begin af geweet wie Hy gaan red en hoe Hy dit sou doen. Hy het van die begin af geweet dat die stad geoordeel sou word en Hy het geweet hoe Abraham sou bid. En op een of ander manier in Sy soewereiniteit, majesteit en wysheid, het God geweet hoe om al daardie dinge gelyktydig te laat gebeur. Niks was teenstrydig met enigiets wat Hy gesê het of met Sy natuur of selfs met Abraham se gebed nie, hoewel hy nie daarvoor gevra het nie.

“Wie is soewerein hier?” God het dit alles gedoen om Abraham te lei in Sy weë, in Sy natuur en in Sy karakter, in Sy goddelike doel en in Sy soewereiniteit. En dan het Hy dit deur Moses laat neerskryf, sodat ek en jy dieselfde voordeel daaruit kan kry.


Toe Jesus vir ons die voorbeeld van gebed in Matteus 6 gegee het, het Hy so begin: “Onse Vader wat in die hemele is, laat U Naam geheilig word. Laat U koninkryk kom. Laat U wil geskied, soos in die hemel, so ook op aarde.” Dit is ‘n verklaring. Dit is nie versoeke nie. Luister self na die woorde. Dit is nie wens denke nie. Dit is feitlik. Jy begin daardie gebed met feite, met stellings van waarheid. Jesus het gesê bid so omdat dit waar is: Sy wil sal geskied op aarde soos dit in die hemel is. Die eerste versoek in die “Onse Vader,” (soos ons dit noem,) gebeur nie totdat ons sê, “gee ons vandag..”. Tot op daardie stadium verklaar jy die waarheid, die ewige waarheid van die God wat ons dien.

Ons eerste versoek in gebed moet wees dat ons vra dat God se wil geskied. As Hy dit aan ons openbaar, dan kan ons deel word van Sy plan en daardeur gee ons Hom die heerlikheid. God is so genadig en liefdevol dat Hy Sy wil sal openbaar aan diegene wat Hom liefhet en begeer om dit te doen. Omdat ons dit kan soek, sal Hy Sy plan aan ons openbaar in die gebeure rondom ons.

Wanneer jy deel word van Sy werk, deur te bid vir die uitkoms daarvan, en dat God se wil sal geskied, dan sal jy dit weet wanneer dit gebeur en sal jy Hom eer daarvoor gee. Die feit dat jy nie alles kry wat jy wil hê nie, is nie 'n slegte ding nie. Die feit dat jy kry wat God wil, is 'n goeie ding. Die probleem is nie in wat God doen in reaksie op ons gebed nie. Die probleem is in wat ons Hom vra om te doen, of dit nou volgens ons wil of Syne is.

As Abraham vir God gebid het om die stad vir ewig te spaar, sonder voorwaardes, as sy gebed was, “God red Sodom,” sou hy nie gesien het dat sy gebede suksesvol beantwoord word nie. Want om daardie gebed toe te staan, sou God Sy persoonlikheid moes verloën deur nie die onregverdiges te oordeel nie.

Wanneer jy tyd neem om die baie verse in verband met gebed in die Skrif te ondersoek, gaan jy vind dat elkeen 'n baie algemene betekenis het. Ek kan vir jou 10 of 20 van hulle aanhaal, maar ek wil net een gedeelte uit Johannes 14 aanhaal:


Joh 14:13  "En wat julle ook al in my Naam mag vra, dit sal Ek doen, sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word. Joh 14:14  "As julle iets in my Naam vra, sal Ek dit doen. "


Die manier waarop hierdie Skrif gedeelte misbruik is, om iets in die naam van 'n ander persoon te vra, was 'n baie spesifieke konsep in die Verre Ooste in die tyd dat hierdie boek geskryf is, deur Johannes. Dit het 'n baie spesifieke betekenis gehad. Dit beteken dat jy in die plek gestaan het van die persoon wat jy verteenwoordig het. Dit het beteken dat jy namens hulle praat en dat jy hul volle toestemming gehad het.

En meer as dit, het dit beteken dat jy weet wat hulle sou sê indien hulle teenwoordig was. Dit beteken dat jy so in harmonie is met hulle versoeke, hul doel, hulle rigting, dat jy namens hulle kon praat. Soos wanneer iemand ‘n prokureur is, maar het volkome kennis van wat jou kliënt van jou verwag. As ek praat in die naam van iemand in die Verre Ooste, sou dit beteken ek het presies geweet wat hulle sou sê en ek praat as te ware hulle woorde.

So as jy in die naam van Jesus vra, is dit nie net dat jy Sy naam by 'n sin voeg nie. Soos; “voeg Sy naam daar in” en skielik is dit magies nie. Dit gaan nie gebeur nie. “Gebruik my naam en dit gebeur” is nie wat dit beteken nie, dit beteken dat jy Hom by jou lewe gevoeg het. Jy ken Sy wil omdat jy daarin wandel en jy vra nie vir dinge wat jy wil hê nie. Jy vra vir wat Hy wil hê. Wanneer jy vra volgens Sy wil, sal jy dit kry omdat Hy dit sal doen wat Sy wil en volkome plan is

Ons vergeet so dikwels, in hierdie lewe op aarde - insluitend ons gebedslewe wat ons op hierdie aarde beoefen; om ons bestaan aan Sy heerlikheid en Sy wil toe te wy, en nie ons eie nie. Wanneer God ons gebede verhoor - die besondere gebede wat ek glo Hy ons deur die Heilige Gees en ons omstandighede gee - is ons dikwels geneig om Sy heerlikheid te steel, nie waar nie? Selfs in iets so subtiel as om te sê, “Ek het daarvoor gebid. So bly om te hoor jy is genees want ek het daarvoor gebid.”

Al is dit nie ons bedoeling nie, ons woorde dra betekenis; ons woorde kommunikeer ons gedagtes en ons bedoeling wanneer ons mense vertel dat dit as gevolg van ons gebed is dat hulle gered het is, dis as te ware ons gebed wat hulle gehelp het. Daar is geen krag in gebed nie! Daar is net krag in God. Die krag van gebed is nie die krag van jou woorde nie. Dis die krag van 'n God wat sal doen wat Sy wil is..

Die verskil vir ons is wanneer ons dit doen, wanneer ons daardie kind is wat instap nadat ons God gehelp het en ons sê: “Ek het die motor reg gemaak en God het gehelp”. Ek dink God het ons daarmee laat wegkom. Maar net vir ‘n tydperk, want net so sal daardie kind uiteindelik eendag volwasse word, 'n man wat beter weet, 'n man wat deur sy volwassenheid kan terugkyk op daardie oomblik en sê: “Dit was nie ek nie. Dit was 'n liefdevolle pa wat my laat dink het dit was ek, want dit het my gehelp om gemotiveerd en geïnteresseerd te bly om in Sy werk te wees. Maar daar was 'n tyd om te groei. Daar was 'n tyd, vroeër of later, toe ek moes ophou om na dinge te kyk soos ‘n kind en besef dat, ”Nee, dit was nie ek nie. Dit was Pa wat die werk doen en Pa is die een wat die krediet kry vir 'n liefdevolle verhouding wat my laat volwasse word het om die man te wees wat ek vandag is. '”

As jy 'n kind van die Here is en jy dink jy doen hierdie werk, wel, God is genadig om jou dit te laat glo, maar daar is ‘n tyd om te groei. Dit is tyd om volwasse te wees in jou geloof en om te besef dat Hy die werk doen wat Hy met ons deel. Maar dis Sy heerlikheid en dit is Hy wat ons die eer moet gee, want sonder Hom is daar geen werke nie. Sonder Hom is dit onmoontlik vir ons om enige werk te doen. Aan Hom kom toe al die heerlikheid.

Nita Kearney / Gas Skrywer


Geneem uit die afrikaanse vertaling van: Verse by Verse Ministry International



11 views0 comments

Recent Posts

See All

Comentários

Avaliado com 0 de 5 estrelas.
Ainda sem avaliações

Adicione uma avaliação
bottom of page