top of page

Die Dood


Elke ding het sy vaste tyd, elke ding in hierdie wêreld het sy tyd: daar is ‘n tyd om gebore te word, ‘n tyd om te sterwe, .... (Prediker 3:1-2)


Moenie treur soos die wat nie hoop het nie


Ons wil hê, broers, dat julle nie onkundig moet wees oor wat met die ontslapenes gaan gebeur nie. Dan sal julle ook nie treur nie, soos die ander mense wat geen hoop het nie. Ons glo immers dat Jesus gesterwe maar ook opgestaan het. Net so glo ons ook dat God saam met Jesus die ontslapenes wat in Hom geglo het, na Hom toe sal neem. Dit sê ons vir julle op grond van wat die Here gesê het: Ons wat bly lewe tot met die wederkoms van die Here, sal die ontslapenes hoegenaamd nie voor wees nie.” - 1 Tessalonisense 4:13-15.


Daar is ‘n tyd vir ‘n verskeidenheid dinge.... So beskryf Prediker, die wysheidsboek, die gang van die mens se lewe op aarde. “Elke ding het sy vaste tyd, elke ding in hierdie wêreld het sy bepaalde tyd ...” Ons weet dit uit ervaring. Sommige dinge kom maar net oor jou pad. Jy het geen beheer daaroor nie. Veertien dinge wat teenoor mekaar staan, word opgenoem (Pred 3:2-9). Die mens beweeg tussen twee pole: die pool van lewe en behoud, teenoor die pool van dood en verlies. So is daar die beginstreep en die einde van ons lewe op aarde: "daar is 'n tyd om gebore te word, 'n tyd om te sterwe". Die een gee blydskap (normaalweg), die ander bring hartseer. Maar presies wanneer daardie tydstip van geboorte en sterfte is, weet ons nie en kan ons nie byvoeg tot ons jaartal nie. Dit is Sy Soewereine Plan vir elkeen van ons. Alleenlik waneer jy die “Soewereinheid” van God verstaan, sal hierdie dinge vir jou duidelik word. Streef daarna.


Daarom kan elkeen wat in Jesus glo verseker wees dat noodlot nie jou tye bepaal nie, maar God. In Jesus Christus word ons deel van Sy tyd, wat lei na Sy vasgestelde plan vir jou lewe, die ewigheid. Alles is onder die beheer van die Soewereine God wat alles in ons lewens bepaal, die tyd om gebore te word sowel as die tyd om te sterf! Daar is dus niks beter nie, as om elke dag met God te begin en af te sluit nie. Maar meer nog, om tussen geboorte en sterfdag jou oog op die dinge te vestig wat ewigheids waarde het. Maak God se koninkryksdiens jou hoogste doel, dit het ewigheids waarde. Maak hemelse skatte bymekaar deur Sy Koninkryk uit te brei, Sy opdrag aan ons uit te voer en siele te wen vir Sy Koninkryk!


Tussen geboorte en sterfdag is eintlik net 'n kort strepie, ‘n aanduiding van ons lewens bestaan hier op aarde. Vooraf bepaal deur ‘n Soewereine God: Wat gebeur in daardie tyd wat met die strepie aangedui word, waarheen lei alles? Dit vra die prediker homself af: "Wat kry die mens vir die werk waarmee hy hom vermoei?" In Psalm 90 bid Moses; Ons jare is vol swaarkry en leed. Dit is gou verby, ons vlieg na ons einde toe.


Moenie verlei word deur die wêreld wat voorgee dat ..”oupa klavier speel in die hemel, of ouma wat koekies bak nie..” Die oomblik wat jy van die menslike afstand doen, jou oë sluit, maak jy dit oop en staan voor jou Skepper.


Waar jy jou bevind in daardie oomblik, sal afhang van jou verhouding met God en of jy wedergebore is met ‘n standvastige geloof in Jesus Christus! As sulke mense sterf, jubel ons in die verlossing, maar as ‘n ongeredde tot sterwe kom, is daar niks om oor te jubel nie, en dan treur ons oor ‘n verlore siel. Moenie vertoef nie, koop die tyd uit, daar is geen ‘more’ nie, al wat ons het is vandag!


Vader, ons verstaan nie alles nie en ken maar ten dele, maar eendag sal ons ten volle ken! Vader help elkeen van ons om vas te staan in die geloof en die belofte van ‘n Koninkryk waar U regeer, wetende hierdie is net ‘n kort tydjie in ons aardse tent en ons is net reisigers in ‘n vervalle wêreld, maar daar is ‘n beter plek vir diegene wat in U glo en lewe volgens U insettinge. Help ons en versterk ons geloof! Amen

Recent Posts

See All

Kommentare

Mit 0 von 5 Sternen bewertet.
Noch keine Ratings

Rating hinzufügen
bottom of page