Jesaja 41:10
Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand.
Mense wat baie vertroue het in hulle eie vermoëns en in wat hulle bereik het, weet selde baie van God. Voordat ons God se krag in al Sy volheid kan ontdek, moet ons van aangesig tot aangesig gebring word met ons eie onvermoë en swakheid.
Ons sal almal deur tye in ons lewens gaan wat ons eerder wil vermy. Soos die apostel Paulus, sal ons die Here vra om die moeilikheid uit ons lewens te verwyder, en ons mag die antwoord kry wat. as ons eerlik is, ons nie altyd begeer om te hoor nie: "My genade is vir julle genoeg, want my krag word in swakheid volbring" (2 Korinthiërs 12:9).
Baie van ons spandeer ons lewens om sterk te wees vir ander, om voort te gaan en dit bymekaar te hou vir diegene vir wie ons omgee. Ons kan selfs begin glo dat ons dit kan doen – maar ons kan nie. Selfs op ons beste dae ontdek ons dat ons perke het wat ons nie op ons eie kan oorkom nie. Maar as ons net sal erken hoe
desperaat swak ons is, sal ons verbaas wees om te sien hoe die krag van God in ons lewens losgelaat word. Die manier om werklik sterk vir ander te wees, is om op die Here se krag te steun, eerder as om op ons eie te vertrou.
Miskien is u, terwyl u hier lees, fisies, emosioneel of geestelik gedreineer - al dan nie, sal die tyd om so te voel, aanbreek.
In jou oomblikke van swakheid sal jy voor 'n keuse te staan kom: jy kan God vra om jou krag te gee, of jy kan jou tot afgode wend. Jou natuurlike neiging sal nie wees om na God te draai nie, maar om jouself op ander maniere te vernuwe en gerus te stel – jou besittings, jou intellek, jou energie, jou prestasies in die verlede.
Die profeet herinner ons egter aan hierdie woorde: "So sê die HERE: 'Laat die wyse man nie in sy wysheid roem nie, laat die magtige man nie roem in sy mag nie, laat die ryk man nie roem in sy rykdom nie, maar laat hom wat roem hierin roem dat hy My verstaan en ken'" (Jeremia 9:23-24).
In stede daarvan om vandag in jou eie krag te probeer iets doen, laat die Heilige Gees toe om hierdie waarheid aan jou siel te bedien: God voorsien Sy krag vir jou swakheid. Hy sê: "Ek sal jou versterk, Ek sal jou help, Ek sal jou ondersteun met my regverdige regterhand." Jy dien 'n God wat oë het wat jou sien, knieë wat buk om jou te help, en hande wat uitreik om jou te omhels. Draai nederig na Hom in jou swakheid en wees voorbereid dat Hy jou met Sy krag sal ontmoet.
Vrye vertaling: Nita Kearney
Comments