top of page

Spore in my Kind se Lewe




























1 Timoteus 4:6-10
6 As jy hierdie dinge aan die broers voorhou, sal jy 'n goeie dienaar van Christus Jesus wees wat jouself voed met die woorde van die geloof en die goeie leer waarvan jy 'n aanhanger geword het.
7 Maar van onheilige en sinlose verdigsels moet jy wegbly. Oefen jou liewer om in toewyding aan God te lewe.
8 Om jou liggaam te oefen, het wel 'n bietjie waarde, maar om in toewyding aan God te lewe, het in alle opsigte groot waarde, want dit bevat 'n belofte van lewe, vir nou en die toekoms.
9 Dit is 'n betroubare woord en kan sonder voorbehoud aanvaar word.
10 Met hierdie vooruitsig span ons ons kragte in en stry ons, want ons het ons hoop op die lewende God gevestig, wat die Verlosser is van alle mense, van almal wat glo.

Ons kan alleenlik ons kinders lei na waar ons is in die lewe

Eendag, so lui die verhaal, het ‘n pa soos gewoonlik, sy seuntjie in die bed gesit, die deur toegetrek en deur die sneeu geloop na die kroeg. Terwyl hy loop, hoor hy iets agter hom en toe hy omkyk sien hy sy seuntjie, nog in sy nagklere, wat versigtig in sy voetspore trap met sy kaal voetjies, agter hom aan.

Hy hardloop terug, tel die seuntjie op en vou hom toe in sy baadjie. “wat maak jy hier in die koue?” vra hy. Bewend van koue antwoord die kind “ek wil soos pappa wees en gaan waar pappa gaan”!


Dit mag miskien ‘n verhaaltjie wees, maar dan mag dit ook die waarheid wees in die lewens van talle ouers. Die vraag om te vra is `watter spore los jy in jou kind se lewe?`


Hierdie is my verhaal en ek deel dit met ander wat miskien daarvan kan getuig of dit mag iemand tot voordeel wees.

As kind het ek dikwels verby my ouers se kamer geloop, stil gaan staan en geluister na wat my pa besig was om te sê. Hy was op sy knieë besig om te bid. Hy het elkeen van ons by die naam genoem en God gevra vir leiding, beskerming en guns in ons lewe! Dit was elke aand voor hy gaan slaap het sonder uitsondering.


Dit was nie vreemd vir my nie want ons was gewoond aan huis godsdiens, saam bid en het ons as kinders geweet wie God is en het my ouers ‘n goddelike vrees gehad vir Hom wat getuig het van hulle lewe.

Die les hier is om te bevestig hoe uiters belangrik dit is om jou kinders te leer wie God is, van jongs af. Wanneer hulle waarneem dat jy jou buig voor God en bid vir hulle, sal dit wat hulle sien, hulle denke oorheers. Dit bly in die geheue en gaan met hulle.


Dit los ‘Goddelike voetspore’ in die kind se lewe en help hom om verder in sy lewe standvastigheid te verkry en ‘n christelike fondasie te bou vir homself.


Daardie gebede van my ou vader wat hy smekend aan die voete van Hom neergelê het, het die fondasie geword waarop ek my lewe kon bou toe die grootsheid van die lewe my wou vernietig. Ja, ek het afgedwaal maar Sy Woord het my uitgered, want ek kon weer die voetspore van my ou vader sien voor my en weer sy gebede hoor wat gerig is tot die Allerhoogste. Ek kon Sy Naam aanroep want ek die Naam geken, en Hy het my uitgered uit die modderpoel van die lewe en my voete gesit op die Ewige Rots. Ek weet dit want my ou pa het my op die naam genoem as hy gebid het en God het my geken.


Vat vandag ‘n oomblik en kyk terug na die spore wat jy in jou kind se lewe getrap het.

Dit is nooit te laat om te bely voor die Allerhoogste en jou kind voor Hom te bring nie.


Mag dit vandag vir jou aansporing gee in jou lewe. ‘n les uit my eie lewe’


Gasskrywer : Nita Kearney


Beeld : A I


25 views

Comentarios

Obtuvo 0 de 5 estrellas.
Aún no hay calificaciones

Agrega una calificación
bottom of page