top of page

U Woord vir Vandag 07/04/2024

Die Helm van Verlossing - Wapenrusting van God

Effesiërs 6:17


….En neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Gees—dit is die woord van God— [18] terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees, en juis daartoe waak met alle volharding en smeking vir al die heiliges” (Efesiërs 6:13-18)


Wanneer ons God uit persoonlike ondervinding ken en nie net verhale oor Hom ken nie, raak die Helm van Verlossing ‘n kragtige deel van ons wapenrusting. In Matt 13:22 lees ons van so ‘n (suksesvolle) geestelike aanval:

"En by wie in die dorings gesaai is—dit is hy wat die woord hoor, maar die sorg van hierdie wêreld en die verleiding van die rykdom verstik die woord, en hy word onvrugbaar." (Matt 13:22)


Jy is die produk van jou gedagtes

Ons brein is die sentrum waardeur ons ervaar met ons sintuie. Ons bewussyn is daar gesetel, asook ons emosies. Sonder beskerming is dit ‘n kwesbare area. Ons leer in die Bybel dat ‘n mens so is soos wat hy dink: "Want soos hy in sy siel bereken, so is hy… "(Spreuke 23:7)


 Hierdie Skrif gee aan ons ‘n belangrike leidraad oor die geweldige krag wat in ‘n mens opgesluit is. Dit is daarom dat die Satan al sy pogings konsentreer om die mens se gedagtes vas te vang of te mislei. Jesus het gesê, ‘Laat dit vir jou wees volgens jou geloof’ (Matt 9:29). . Dit is omdat die mens in sy gedagte area aangeval word om op ‘n sekere manier oor ‘n saak te dink. In sy brief aan die Korintiërs het Paulus ook daarvan melding gemaak "want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp "(2 Kor 10:4))


Satan begin altyd sy aanvalle met wat ‘n Christen weet of nie weet nie. Een van die hoof waarhede wat altyd aangeval word, is ons geloof sekerheid: Is jy gered of nie? Wanneer iemand eers op ‘n sekere manier dink en in sy hart oortuig is dat dit wat hy dink, die waarheid is:


1.     Is dit moeilik om hom sy sienswyse te laat verander

2.     Verander sy omstandighede om dit wat hy glo, te reflekteer.


In hierdie opsig is die Helm van Verlossing belangrik vir die kind van God. Jesus het verklaar:

“Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te bring. Hy het My gestuur om die wat verbryseld van hart is, te genees; om aan gevangenes vrylating te verkondig en aan blindes herstel van gesig; om die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur; om die aangename jaar van die Here aan te kondig. (Luk 4:18-19 )


Die woord ‘evangelie’ beteken ‘goeie nuus’. Jesus bring die Goeie Nuus van Verlossing vir

  •   Armes (ook arm van gees) – goeie nuus van bonatuurlike voorsiening in behoeftes

  •   Die verbryseldes van hart (genesing)

  •   Gevangenes (demonies, geestelike tronke van angs, vrees, misleiding, ens.) – vrylating

  •   Blindes (fisies sowel as geestelik) – herstel van sig

  •  Gebrokenes – vryheid

  •   Die Aangename Jaar van die Here (versekering van redding tot die ewige lewe vir hulle wat glo)


Jesus het nie slegs alreeds die oorwinning vir ons behaal nie (verlede tyd). Dit is ook nie slegs ‘n toekomstige hoop (“eendag in die hemel…”) nie. Sy Verlossing is ‘n voortdurende proses in die alledaagse lewe. Ons bewustheid daarvan, die feit dat ons dit daagliks raaksien en saam met Hom dit meelewe – dit is die krag van die Helm van Verlossing.


 Hoe gebruik ons die Helm van Verlossing?

1.     Leer om anders te dink oor sake

Ons lees in Rom 12:2 "En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is. "(Rom 12:2)

Kinders van God behoort deurentyd hulle oë en gedagtes gerig te hou op die leiding van die Heilige Gees. Hy sal elke keer vir jou die uitkoms uit elke situasie wys. Leer die Bybel ken. Leer die beloftes van God ken. Leer om Hom te vertrou. Moenie dat die sorg van die wêreld die woord in jou verstik en jy dalk onvrugbaar word nie.


2.     Verwerp twyfel wat deur omstandighede ontstaan

Mens is geneig om dinge wat hy nie met sy sintuie kan waarneem nie, te verwerp. As ons dit toelaat, sal omstandighede jou laat begin twyfel aan God se goedheid en Sy liefde vir jou. Geloof en Twyfel kan nie saam aan dieselfde kar trek nie:


"En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek." (Heb 11:6)


3.      Soek na die leiding van die Heilige Gees

Die Helm van Verlossing is op sy sterkste wanneer ons dìt koester wat daardeur verteenwoordig word. Die Verlossing wat Jesus vir ons gekoop het, kan nie meeding met aardse dinge nie. Begin om elke dag aktief te soek na net een persoonlike ondervinding met Hom:


"Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ‘n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra. "(1 Kor 10:13)


Wanneer ons daagliks die Helm van Verlossing dra, word ons gedagtes waaksaam teen die suggesties, planne en strikke van die duiwel. Die Oog Poorte en die Oor poorte is die hoof toegangsroetes tot ons gedagtes. Wanneer ons begin kies waarna ons kyk en luister; sal ons meer waaksaam raak oor wat ons glo. Wat ons glo, bepaal weer ons toekoms – want soos ‘n mens bereken, so is hy. (Volgende...Deel 3)


Erkenning: Tommy Lessing (Pastoor)



Bybelstudie : Wapenrusting van God





Wapenuitrusting van God Efesiers 6:11

 



Recent Posts

See All

1 Comment

Rated 0 out of 5 stars.
No ratings yet

Add a rating

Vul jou gedagtes met die dinge van God 🙏

Like
bottom of page