top of page

U Woord vir Vandag 12/04/24

 Die Skild van die Geloof - Wapenrusting van God

 EFÉSIËRS 6:11-18 

 


Vandag kyk ons na die geloof, wat is soos ’n geestelike skild wat jou beskerm teen brandende pyle van die vyand.


God help ons. Hy het vir ons die Woord gegee. Daarin lees jy van mense van vlees en bloed, soos ons, wat aangeval is, bedreig – selfs met die dood -, wat verlei is deur die duiwel, en wat gely het omdat hulle Christus gevolg het.. Die Bybel gee vir ons voorbeelde van geloof.


 As jy die ou testament naslaan, sal jy lees van Geloofshelde  wat deur hulle geloof groot oorwinnings behaal het teen diegene wat hulle vervolg het.


Wat het hulle in gemeen gehad? 

Almal het God geglo en,hul vertroue op God geplaas.Almal het hulle hoop op God se Koninkryk gebou.Almal het moedige dade verrig wat ons nie verwag om te kan regkry nie. Maar in geloof was dit moontlik want in geloof skuil jy by jou magtige God!


Geloof in Christus is jou skild en jou pantser!


1.   Geloof beskerm jou


1.1   In die stryd

Geloof is soos ’n skild. Dit keer die geestelike pyle wat jou kan doodmaak. Dit beskerm jou en hou jou staande, sodat jy kan aanhou veg.


Romeinse soldate gee ’n baie goeie illustrasie van die skild van die geloof. Elke soldaat het ’n kort swaard gehad vir man-tot-man gevegte. Hulle het ’n spies gehad om op langer afstande te veg. (gooi dit na die vyand voordat hy jou met sy swaard kan aanval).


Maar wat nou as hulle ’n stad wou verower? Die vyande is verskans agter die mure. En terwyl die Romeinse soldate nader kom, is daar talle pyle op hulle afgevuur. Dit het soos ’n reën neergedaal. Die gevaarlikste pyle het ’n prop met brandbare punt gehad, wat aan die brand gesteek is. Wanneer dit jou geraak het, het dit versprei en jou vel aan die brand gesteek. Die pyn was ondraaglik. 


Daardie pyle kon baie soldate doodmaak, nog vóór hulle nader kon kom om met hulle swaarde te veg.Pyle was dus ’n gevaarlike wapen!


Maar die Romeinse weermag het iets uitgevind. Die soldaat het ’n massiewe skild gedra. Dit was halfrond en het tot skouerhoogte gekom. Wanneer die pyle geskiet word, kon jy  eenvoudig agter jou skild skuil.! Die pyle het  bly steek in die leer van die skild en is uitgedoof. Wat n gevoel moet dit nie wees om te skuil  agter ’n skild so groot soos ’n deur?


Soldate wat ’n stadsmuur wou bestorm, het saam in ’n groep geloop, met skilde voor, links, regs, en bo oor hulle koppe.  Die skild het dit dus moontlik gemaak om veilig nader te kom sodat hulle die vyand met hulle spiese en swaarde kon aanval.


Ons geloof in God, jou geloof in Christus is soos ’n  geestelike skild so groot soos ’n deur. Dit beskerm jou teen die geestelike vurige pyle wat die duiwel op jou afskiet.


2.   Die geestelike pyle van die duiwel


Die krag kom vanaf wie jy jou vertroue in plaas: Christus jou God. .Hy veg vir jou.

Dit is wat ons moet onthou in ons geveg teen die duisternis. (ons veg nie teen vlees en bloed nie!)

Dis belangrik om ons vyand te ken. Hoe word ons aangeval?Watter wapens gebruik die duiwel teen christene  in die stryd?


Vurige pyle’ noem Paulus dit.


Vuur word in die Bybel gereeld gebruik vir beproewing.God bring beproewinge in ons lewe om ons geloof suiwer te maak, soos goud wat in die smeltoond gegooi word staan geskryf in die Woord.


Dit duiwel gebruik beproewings én verleidings om ons te laat struikel


2.1   Hy gebruik angs

Soos Gideon bang geword het vir die derduisende soldate, so maak die duiwel jou bang. Jy is bang om alleen te staan in jou groep van jongmense. Jy wil nie outyds of laf lyk nie, dis lekkerder om gewild te wees en bewonder te word. So word daar druk op jou geplaas om met seks te begin, om jou standpunte te verander, om te koop wat ander jongmense ook koop. Ander mense het invloed op die keuses wat jy maak. Maar nie net jongmense word aangeval deur angs nie.Jy kan ’n sonde begaan en daarna bang word dat iemand uitvind. Uit angs lieg, om jou sonde te verberg en jouself teen die gevolge te beskerm. Angs vir verwerping kan jou laat besluit om te swyg wanneer jy sonde sien, om nie te ly vir Christus nie.


2.2   Verleiding


Die vyand verlei jou ook met lekker dinge. Verleiding tot sonde is subtiel, en dit belowe jou altyd iets wat jy kan geniet. Jy dink jy benodig dit, of dit sal jou lewe mooier of beter maak.


Moses het die verleiding gevoel om in Egipte lekker in die paleis te bly en die lewe te geniet. Dit was heelwat eenvoudiger gewees as om die Israeliete te verdedig, om Farao te konfronteer, en om 40 jaar deur die woestyn te loop. Hy het die offers gemaak deur geloof.


Josef is deur Potifar se vrou verlei. Dit was kans vir die slaaf om sy posisie te verbeter as hy voor die  verleiding van die vrou geswig het want dan het dit sy  meester geword het. En niemand hoef dit te weet nie!


In elke verleiding beloof die duiwel iets wat aantreklik is en jou lewe verbeter.Maar…. dis altyd gebaseer op leuens. Dit het reeds in die paradys begin: ‘nee, jy sal nie sterwe wanneer jy van hierdie boom eet nie…’Eva se sonde het die afhanklike verhouding met God vernietig, en Eva is uit die paradys verdryf; haar een seun het die ander vermoor, en uiteindelik het sy self ook gesterwe.


Dis die geestelike vurige pyle van die duiwel wat op ons neerreën.Wanneer jy dit nog nie vandag ervaar het nie,sal dit definitief teen jou aankom as jy ernstig is om Jesus te volg.


Maar hoe kan jy dit oorwin?


2.3   Hef op daardie skild!


Geloof in Christus is jou skild teen hierdie vurige pyle.Sy pyle sal jou nie raak en doodmaak nie wanneer jy staande bly in jou geloof nie.


Gideon het God vertrou en gehoorsaam. Dit leer ons dat God die oorwinning gee. Moenie op jou eie mag vertrou nie. Gehoorsaam in geloof, doen wat God vir jou sê, wees getrou in jou huwelik, gesin,  en werk. Wees standvastig in geloof, ook wanneer dit nie lyk asof dit jou situasie sal verbeter nie.Gehoorsaamheid in vertroue:  dit is geloof.


2.4   Vertroue


Vertroue plaas op Hom, wat beteken dit?Deur geloof kan jy die leuens van die duiwel erken en teenstaan:-   Die mag van die duiwel jaag jou nie meer angs aan nie sodra God jou oë oopmaak vir Sy mag. God het jou volledig aanvaar vanweë Jesus: wat mense oor jou dink en of hulle jou aanvaar, verdwyn  in die lig van jou plek in die hemel!-   Geloof leer jou die waarheid oor magte en verhoudings: wat groot gelyk het, is skielik baie klein.-   Geloof is soos ’n verkyker: jy kyk verby, agter die verleidings en die skyn van die wêreld, en jy sien die Koninkryk van God, die ewige heerlikheid, die eer wat Jesus vir jou sal gee. Geloof maak dit baie mooier en baie aantrekliker vir jou as enigiets hier op aarde.


 “Daarom gee ons nie moed op nie, maar al vergaan ons uiterlike mens ook, nogtans word die innerlike mens dag ná dag vernuwe. Want ons ligte verdrukking wat vir ’n oomblik is, bewerk vir ons ’n alles oortreffende ewige heerlikheid;omdat ons nie let op die sigbare dinge nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare  is ewig.”


2.5   Meer as net ‘kyk’ – ook krag!


Maar geloof laat jou nie net anders kyk nie. As dit net dit was, sou jy eintlik nog steeds die krag in jouself moet vind om dan die regte besluit te neem.


Nee, geloof bring die mag van God in beweging teen die duiwel. Nou begin Sy krag in jou werk en kan jy dinge regkry wat jy nie self kon regkry nie.


Wanneer jy in geloof die lyding en verdrukking vir Christus aanvaar, wanneer jy ‘nee’ sê teen die verleidings tot sonde, werk God se krag in jou. Die waarheid van Christus bring lig in jou hart en jou denke, die Heilige Gees gee jou suiwere nuwe begeertes in jou hart, en werk die gehoorsaamheid van Christus in jou. So kan jy besluite neem, woorde spreek, dade stel wat moeilik is, maar wat eer bring aan God.


In geloof kan jy die waarheid spreek en die leuen ontmasker.

In geloof kan jy trou en eerlik wees waar korrupsie en owerspel teenwoordig is.

In geloof kan jy die leuens van ons kultuur ontmasker en in die waarheid wandel.

In geloof kan jy die kortstondige genieting van die sonde wegskuif en verwerp, omdat jy van Christus  wil eer en uitsien na die heerlikheid wat Hy vir jou sal gee.


2.6   Hulle wys na Christus


Die voorbeelde van gelowiges in Hebr 11 en die res van die Bybel is vir ons gegee as rigtingaanwysers. Moenie daardie mense bewonder, en dink ‘ek wil soos Abraham of Noag of Moses wees nie’. Moenie dink ‘maar ek sal nooit so moedig wees soos Noag of vasberade soos Gideon nie. Josua se integriteit is nie vir my haalbaar nie.

’Hulle is padaanwysers na Christus toe. Deur geloof in Hom is jy sterk. Deur die geloof woon Hy in jou, en in antwoord op jou geloof werk Sy krag in jou. Dit gaan oor Hom.Jou fokus moet op Hom wees. Dit is ook waaroor dit gaan in geloof: dat jy op Christus jou vertroue plaas. (Deel 5)


Daardie geloof is soos ’n  geestelike skild waaragter jy skuil teen die aanvalle van die vyand om daarna met die geestelike swaard ( die woord) aan te val en uiteindelik te deel in die oorwinning van Christus.

Amen


Erkenning: Tommy Lessing (Pastoor)



Bybelstudie : Wapenrusting van God





Efesiers 6:11 Wapenrusting van God

 

 

6 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments

Rated 0 out of 5 stars.
No ratings yet

Add a rating
bottom of page