top of page

U Woord vir Vandag 16/04/24

Die Gordel van Waarheid - Wapenrusting van God

Efesiërs 6:14

Staan dan vas, julle lendene met die waarheid omgord...



Omgord julle lendene met die waarheid. Dit is die gordel van waarheid. Die Griekse woord is die woord “Aletheia”, waarheid of ‘n gesindheid van egtheid. Die woord kan vertaal word as die Woord van God, die Openbaring van God, die waarheid in teenstelling met valsheid. Of dit kan ook vertaal word met ‘n gesindheid van egtheid, of opregtheid, eerlikheid en integriteit.

Kom ons kyk eers na die eerste vertaling wanneer dit praat van die waarheid. As Satan my aanval, is dit my plig in die eerste plek om die gordel van waarheid aan te hê. Hoekom? Want hy gaan kom met al sy planne, met al sy leuens en misleiding.

Efesiërs 6:11 Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel.

Efesiërs 4:14 sodat ons nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering, deur die bedrieëry van die mense, om deur sluheid LISTIGLIK TOT DWALING TE BRING.

So Satan val ons aan deur te kom met al sy valsheid en leuens. En die enigste manier hoe ons hom kan uit oorlê, is deur die gordel van waarheid aan te hê. Jy weerstaan nie valsheid en leuens van die duiwel deur dit beter te verstaan nie, maar jy weerstaan dit met die waarheid. En dit is waarom dit so belangrik is dat ons gesonde lering sal ontvang. Dit is belangrik dat ons die Woord van God sal leer en dit sal verstaan.


So hoe trek ek die gordel van waarheid aan? Deur die Woord van God te leer en te ken. U behoort tyd te spandeer met God se Woord. Hoekom val so baie Christene vir valse leringe? Want hulle ken nie God se Woord nie. Hulle spandeer nie tyd in God se Woord nie.

  • 2 Tim 4:1 "Ek besweer jou dan voor God en die Here Jesus Christus, wat die lewende en die dode sal oordeel by sy verskyning en sy koninkryk:

  • 2 verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering;

  • 3 want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede,

  • 4 en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels".

Satan kom met onwaarhede en ‘n gelowige wat die geestelike stryd toetree moet die waarheid ken. En dit is wat Paulus hier in Efesiërs 6:14 hierbo beteken.

Nou in Paulus se tyd het ‘n Romeinse soldaat ‘n kleed gedra. Dit is een stuk material wat hy gedra het, amper soos ‘n rok, maar as hy oorlog toe gegaan het, kon hy nie dit los dra nie. Dit sou hom gepla het in ‘n veg situasie.

Lukas 12:35 Laat julle heupe omgord wees en julle lampe aan die brand.

So dit gaan oor gereedheid en om voorbereid te wees. Die belt of gordel wat hulle dan aangetrek het, was ter voorbereiding. So die Romeinse soldaat sou nie na ‘n oorlog toe gegaan het as hy nie sy kleed vasgemaak het en omgord het nie.

2 Tim 2:3 Ly dan verdrukking soos ‘n goeie krygsman (soldaat) van Jesus Christus.

2 Tim 2:4 Niemand wat ‘n krygsman is, wikkel hom in die werksaamhede van die wêreld se dinge nie, sodat hy die een kan behaag wat hom vir die diens gewerf het.

Wat hy hier sê is dat jy kan nie gaan veg as jy in die wêreldse dinge verstrengel is nie. Jy moet breek met die wêreldse dinge.

Verder het die belt wat die Romeinse soldaat gehad het, ook ‘n band gehad wat aan die gordel vasgemaak het voor en oor die skouers gegaan het en weer agter vasgemaak het. Die soldaat het dan sy swaard hieraan vasgemaak. En ons weet dan ook dat die swaard van die Gees die Woord van God is.


So die swaard van die Gees, wat die Woord van God is, is vasgemaak aan die waarheid. Maw die waarheid is geopenbaar in die Woord. Dit is van die gordel van die waarheid waaruit jy jou swaard van die Gees, die Woord van God trek en die oorlog wen.

En dit gaan oor ‘n gesindheid van egtheid, opregtheid, eerlikheid en integriteit. Die swaard van die Gees gaan oor die waarheid, terwyl die gordel gaan oor die gesindheid van egtheid. ‘n Gesindheid wat sê, ek is gereed vir oorlog. Ek is voorbereid.

Wat dit beteken is dat jy nie in ‘n geestelike oorlog kan gaan veg as jou gesindheid nie eg is nie. Jy kan nie gaan veg as jy nie ernstig is nie. En baie Christene sit nooit hierdie gordel aan nie. Daar is nie opregte toewyding nie.

Wanneer ‘n soldaat sy gordel aan sit en sy band oor sy skouers gooi en sy swaard vasmaak, het dit beteken dat hy is gereed om te gaan veg. Hy is toegewyd tot ‘n oorlog. En ek dink baie Christene gee net nie om nie. Hulle val maar net rond. Daar is geen toegewydheid nie. Jy moet die regte gesindheid en die regte harts oortuiging hê as jy in hierdie geestelike oorlog wil gaan veg.

‘n Ware Christen is lief vir die waarheid en lief vir Christus, so dat hy sy lewe sal toewy om te veg en nie op te gee nie. Ek dink dit is waaroor die gordel van waarheid gaan. Dit gaan oor jou gesindheid en toewyding.

1 Korinthiërs 9:24 Weet julle nie dat die wat op die baan hardloop, wel almal hardloop, maar dat een die prys ontvang nie? Hardloop só dat julle dit sekerlik kan behaal.

Dit gaan oor gesindheid. En vir Christus moet dit jou begeerte wees om jou beste te gee, om voorbereid te wees, om gereed te wees. Jou lendene te omgord met die waarheid. Dit is ‘n oproep tot geloof sekerheid en totale toegewydheid. Trek die gordel van waarheid aan. Jy gaan nie die geveg wen met ‘n verkeerde gesindheid nie.


So die gordel van waarheid gaan oor die waarheid, maar meer dit gaan oor jou gesindheid om gereed te wees, voorbereid te wees en om toegewyd te wees.



Bybelstudie : Wapenrusting van God





Efesiërs 6:11









Recent Posts

See All

Comments

Rated 0 out of 5 stars.
No ratings yet

Add a rating
bottom of page