top of page

U Woord vir Vandag 21/04/24

Die skoene van Bereidwilligheid - Wapenrusting van God

Efesiërs 6:15

"en as skoene aan julle voete die bereidheid vir die evangelie van vrede". 


Let op dat ons teks van vandag ‘n unieke woord bevat – iets wat nie by een van die ander dele van die wapenrusting voorkom nie: Dit is die woord bereidwilligheid. Die skoene van die wapenrusting is die bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig. Ons is baiekeer skaam om die Goeie Nuus van Vrede te verkondig. Netnou dink die mense ons dweep! Tog is dit ons bereidheid wat die verskil in iemand se lewe kan teweeg bring. (Skoene van Bereidwilligheid).


‘n Christelike man was een Sondag oggend deur sy buurman genooi vir ‘n potjie golf. Die Christen het ‘n trek van afkeur op sy gesig gekry en geweier. Die buurman het toe geantwoord, ‘Ek het jou al sewe keer genooi om saam met my te gaan golf speel en jy het elke keer geweier. Ek bewonder jou toewyding aan jou God. Ek wil ook graag jou God ontmoet. Tog het jy my nog nooit saam met jou kerk toe genooi nie.’ Hierdie verhaal illustreer hoedat ons bereidheid om met iemand oor God te praat, net die deur kan wees wat nodig is om daardie persoon se siel te red.


Paulus skrywe aan die Romeine: Ek skaam my nie oor die evangelie nie, want dit is ‘n krag van God tot redding van elkeen wat glo, in die eerste plek die Jood, maar ook die nie-Jood. (Rom 1:16 ANT)


Caligo


Dit is nie ‘n nuwe handelsnaam nie. Caligo of Caligae (meervoud) is die Latyns vir die skoene wat die Romeinse soldate gedra het. Die soldate het nie destyds busse of vliegtuie gehad waarmee hulle kon ry nie. Hulle moes loop waar hulle wou wees. Soms moes hulle letterlik ‘n duisend kilometer ver loop om by hulle bestemming te kom. Hulle skoene moes dus sterk en duursaam wees.


Dink net as ‘n soldaat sy volle uniform aan het, maar nie skoene nie. Hy sal met elke doring of skerp klippie eers moet stop. As hy moet ver loop, sal sy kaal voete baie gou begin bloei. ‘n Soldaat sonder skoene beteken eintlik nie veel nie. Dit is omdat ons skoene die fondasie van ons kleredrag vorm.


Op dieselfde wyse moet ons bereidheid om die evangelie te verkondig, die fondasie van ons Christenskap vorm. Ons bereidheid moet duursaam en sterk wees, sodat ons nie skaam of bang hoef te raak met die eerste dorings van weerstand wat op ons pad kom nie.


Het u al gehoor dat mense praat van ‘duikboot Christene’. Dit is glo Christene wat in die week ‘onder die water’ of as ‘onsigbare Christene’ lewe, en net Sondae opkom sodat mense kan sien dat hulle Christene is. Ons moet nie so wees nie. Ons bereidheid om te help waar ons kan, om mense te dra in gebed en om die beeld van Jesus uit te dra; moet daagliks sigbaar wees.

Die Goeie Nuus van Vrede


Wanneer u die teksvers van vandag lees, is die eerste ding wat u moet opval, is dat dit ‘n ‘evangelie van vrede’ is. In ons moderne tyd het VREDE ‘n duur kommoditeit geword. Die oorgrote meerderheid van berading, is met mense wat na vrede soek. Hulle kry angsaanvalle, moet asma pompies gebruik, slaap sleg, raak depressief en bekommer hulle ‘dood’ oor honderde dinge in hulle lewens. Daar is geen vrede in hulle gemoed nie..


Tog het ons, as kinders van God, hierdie belofte uit die Woord: vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou … (Fil 4:7 ANT)


Evangelie beteken ‘Goeie Nuus’. Ons het die Goeie Nuus van Vrede om te verkondig aan die wêreld. Dit is ‘n besonderse vrede: hierdie vrede hoef nie bewaar te word nie. Dit bewaar jou! Ek glo dat die idee wat Paulus gehad het, so beskryf kan word:


Jy het nou vrede met God gevind. Jou hart kan rus. Gaan nou uit en veg om daardie vrede te behou.

Hoekom? As jy vrede met God het, maak jy oorlog met die duiwel, want hy wil jou vrede steel. As die duiwel jou los en jy vrede met hom het, maak jy oorlog met God. Ons sien dus dat vrede en oorlog teen mekaar werk. Die Goeie Nuus van Vrede maak dat Christus ons gebruik om ander mense ook na Vrede te bring.

Mens kan nie weggee wat jy nie het nie. As jy nie vrede met God het nie, of as jy sukkel met angsaanvalle of vrees – begin wandel in die vrede van God. As jy dit begin smaak, sal jy bereid word om vir ander die Goeie Nuus van Vrede te begin vertel.


Slot


Ek wil u bemoedig om vir die mense rondom jou van God te begin te vertel. Die wêreld het so verander dat die mense weer van vooraf aan moet hoor van Jesus. Wees bereid om die Skoene van Goeie Nuus te dra. Vra die Heilige Gees om vir jou te wys met wie jy moet praat en wat jy moet sê. Hy sal jou wys. Elkeen van ons wil graag kragtig deur God gebruik word. Al wat God vra voordat Hy jou kragtig kan gebruik, is dat jy BEREID sal wees. Kyk wat God se belofte aan jou is:


Want ons is Sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel. (Ef 2:10 AOV)


Trek dus aan daardie skoene, en begin om te wandel in die goeie werke wat God vir jou het!


Amen.


Past. Tommy Lessing (Erkenning)


Bybelstudie : Wapenrusting van God




Efesiërs 6:11


16 views

Σχόλια

Βαθμολογήθηκε με 0 από 5 αστέρια.
Δεν υπάρχουν ακόμη βαθμολογίες

Προσθέστε μια βαθμολογία
bottom of page