top of page

Wat Gebeur Na Die Dood?


“Voordat die silwerdraad verwyder word…”  Prediker 12:6

Elke keer wanneer ons ‘n begrafnis bywoon, word ons herinner aan ons eie sterflikheid en dan ontstaan vrae soos: “Waar is my geliefde nou?”, “Is die dood werklik die einde van alles?” en selfs belangriker, “Waarheen sal ek gaan wanneer ek sterf?” Die Bybel leer in Genesis 2:7 vir ons “En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword.”


Die meeste mense glo dat die siel en die liggaam twee aparte dinge is, maar ons weet dat dit nie so is nie. Siel en liggaam is saam en vorm ‘n eenheid, maar by die dood word hierdie eenheid opgebreek. In Prediker 12:6 lees ons “Voordat die silwerdraad verwyder word…” Die silwer draad waarna verwys word, bind siel en liggaam tot ‘n eenheid. Wanneer die silwer draad gebreek word, dan keer die liggaam terug na die stof waaruit dit gemaak is en die siel terug na God soos in Prediker 12:7 beskryf word: “en die stof na die aarde terugkeer soos dit gewees het, en die gees na God terugkeer wat dit gegee het.”

 

Geen siel bly dus op aarde agter nie, ten spyte van wat die samelewing ons leer of wat ons op TV sien. Dit laat mens wonder met wie hierdie mense wat beweer dat hulle met die dooies kan kommunikeer nou eintlik praat!  Die volgende vraag wat nou opkom is: “Wat is dit wat mense dan sien?” Liewe Kind van God, dit is niks anders as demone van satan nie! Onthou dat satan ‘n meester op die gebied van illusie is. Hy weet presies hoe om die mens te manipuleer en vir hom dinge te wys wat net na die waarheid lyk. In 2 Korintiërs 11:14-15 word ons dan ook daarteen gewaarsku: “[14] En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ’n engel van die lig. [15] Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke.”

 

U volgende vraag gaan seker wees: “Maar hoe kry hulle sulke akkurate inligting?” Satan gee voor om welwillend en behulpsaam te wees en hy probeer om hom as iets goeds voor te doen. Satan en sy demone sal spiritistiese inligting omtrent ‘n persoon verskaf net om hom in die web van spiritisme vas te vang, iets wat God verbied. Dit blyk onskuldig aan die begin te wees, maar spoedig kan mense hulleself verslaaf vind aan spiritisme en onwetend vir Satan toelaat om hulle lewens te beheer en te verwoes. Petrus sê in 1 Petrus 5:8 “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind.”

 

Die Bybel verbied ons as Christene in Deuteronomium 18:10-12 om enigsins betrokke te raak by spiritualisme: “[10] Daar mag niemand by jou gevind word wat sy seun of sy dogter deur die vuur laat deurgaan — wat met waarsêery, goëlery of met verklaring van voortekens of towery omgaan nie, [11] of wat met besweringe omgaan, of wat ’n gees van ’n afgestorwene vra of ’n gees wat waarsê, of wat die dooies raadpleeg nie. [12] Want elkeen wat hierdie dinge doen, is vir die HERE ’n gruwel; en om hierdie gruwels ontwil verdryf die HERE jou God hulle voor jou uit.”

 

Die Bybel leer ons verder dat direk na ‘n mens se dood, die siel Hemel of Hel toe gestuur word afhangende of hy/sy Christus as sy/haar persoonlike Saligmaker aangeneem het. Vir gelowiges beteken die tyd na die dood om vry te wees van die fisiese liggaam en in die Here se teenwoordigheid te wees. In  2 Korintiërs 5:6-10 lees ons: “[6] Daarom het ons altyd goeie moed en weet dat as ons in die liggaam inwoon, ons van die Here uitwoon. [7] Want ons wandel deur geloof en nie deur aanskouing nie. [8] Maar ons het goeie moed en verkies om liewer uit die liggaam uit te woon en by die Here in te woon. [9] Daarom lê ons ons ook ywerig daarop toe, of ons inwoon of uitwoon, om Hom welbehaaglik te wees. [10] Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad.”

 

Vir ongelowiges beteken die tyd na die dood ewigdurende straf in die Hel. In Lukas 16:23-24 lees ons van die Ryk man wat gesterf het: “[23] En die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. En toe hy in die doderyk sy oë ophef, terwyl hy in smarte was, sien hy Abraham van ver af en Lasarus aan sy boesem. [24] En hy roep en sê: Vader Abraham, wees my barmhartig en stuur Lasarus, dat hy die punt van sy vinger in water kan insteek en my tong verkoel; want ek ly smarte in hierdie vlam.”

 

Aangesien geen siel op aarde agterbly nie, is kommunikasie met die dooies totaal geheel en al onmoontlik! Moenie dat satan vir u lieg nie! God se plan vir ons lewens is eenvoudig, maar kragtig en effektief: bestudeer die Bybel (2 Timotheüs 3:16-17 “[16] Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, [17] sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.”) en bid vir wysheid (Jakobus 1:5 “En as iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word.”).

 

Hoe kan ek vir seker weet dat my geliefdes in die hemel is? Die Bybel beantwoord daardie vraag in Johannes 5:24 “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe.” In Handelinge 16:31 lees ons “Toe sê hulle: Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.” Jesus is dus die bron van ons ewige lewe en ons verkry dit deur in Hom te glo. Die Bybel bedoel egter nie dat ons in Jesus moet glo slegs as ‘n geskiedkundige persoon nie. Dit beteken dat ons Hom as ons persoonlike Saligmaker moet aanvaar, dat Hy vir ons sondes gesterf het sodat ons vergifnis kan ontvang en laastens dat ons Hom met ons lewens vertrou.


Wanneer u volgende keer ‘n begrafnis bywoon, kan u bly wees, want indien u vriend of geliefde gesterf het en Jesus as ‘n Vriend geken het, dan sal hy of sy weer lewe. U kan ook seker wees dat indien u Hom as ‘n Vriend ken, u ook die ewigheid saam met Hom in Sy koninkryk sal deurbring wanneer u sterf.



Recent Posts

See All

Comments

Rated 0 out of 5 stars.
No ratings yet

Add a rating
bottom of page