top of page

Getuienis

Nita Kearney

Psalm 42: `Soos ‘n hert dors na waterstrome’

Diep verborge in hierdie psalm is vasgevat die tye van my eie lewe wat ek in nederigheid met elkeen deel wat soekend is na die waters van die ewige lewe.


Van jongs af, het ek bewus geword van ‘n God wat gevrees was in my ouerhuis. Tot so mate dat, wanneer daar ‘n storm was wat gewoed het buite, het ek dikwels gehoor my moeder praat van ‘God is kwaad’ en het ek die donderslae en blitse vereenselwig met ‘n verskriklike God wat wraak neem op ons sondaars! Met daardie vrees vir Hom, asook huisgodsdiens het ons groot geword en, dit was die fondasie wat my dierbare ouers gelê het in my lewe.


Namate ek die grootmens wêreld betrek het, het ek meer en meer bewus geraak van die grootsheid van die lewe en het ek die lewe begin najaag met al die plesier wat dit kon bied. Vinnig het ek vergeet van daardie rustige nagte en sorgelose dae in my ouerhuis, daar waar ek veilig gevoel het. Soos ek meer en meer aan die plesier van die wêreld deel geword het, het ek die ‘outydse’ lesse agterweë gelaat en die spreekwoordelike`kos potte van Egipte’ na gejaag. Hierdie was ‘n tydperk van groot verdriet vir my ouers, maar ten spyte daarvan het hulle gebede vir my net meer intens geword en is my naam gedurig bely voor die troon van die Almagtige. Ek het verkeerde besluite geneem, en ek het gelyk soos die wêreld daar buite. Ja, ek het die prys betaal vir daar besluite en dit was ‘n baie duur prys.


Met die misbruik van drank, as ‘n tipe van ‘vertroosting’ vir die ellende wat ek in verkeer het, het ek my in ’n geweldige kolk bevind wat teen ‘n vinnige spoed my dieper en dieper ingesuig het met ‘n magtelose gevoel dat ek verlore gaan teen ‘n hewige spoed. Soms, in daardie tye wanneer ek die kerk klokke in die verte hoor lui het, het daar ‘n onbeskryflike gevoel van eensaamheid oor my gekom, so ‘n gevoel van totale verlatenheid, maar die pols van die lewe het dit gou uitgedoof. Verlatenheid is ‘n werklike plek waar jy jouself bevind tenspyte van mense rondom jou, is jy nogsteeds alleen en word intens bewus van mense wat, soos jy, soekende voort beur teen die storms van die lewe! Almal soek na ‘iets’ wat nie ‘n naam het nie maar daar is ‘n werklike vakuum in jou lewe.As jy al op die breë pad was, sal jy kan verstaan as ek dit noem, die pad na verderf, en na alles wat die lewe kan bied.


Maar, wanneer die geraas om jou stil word, word jy oorweldig deur die besef van alleen wees, heeltemal alleen. Dit is waarom hierdie psalm vir my die kern van van lewe geword het, die soeke van ‘n rustelose siel na vrede wat, soos die hert, dors na waterstrome, lewende water! Daar kom ‘n tyd in my lewe wat ek in algehele moedeloosheid op my knieë val en uitroep tot die ‘God’ waarvoor ek so bang is! Ek bevind myself ure in onbeheersde gehuil en daar word ek verlos van drank, totaal, sodat ek nie enige gevolge van ‘n drankverslaafde gehad het nie. Daar kom Hy in my lewe en trek my uit die modderslyk van verlorenheid en plaas my voete op ‘n Ewige Rots. My lewe begin verander, ek bely my sondes in nederigheid voor Hom en ondervind vir die eeste keer ‘n vrede wat alle verstand te bowe gaan.


Ek is vergewe, maar die gevolge van my besluite het ek gedra en dra dit nogsteeds in letsels aan my liggaam. My letsels, was diep lê, kan ek vandag gebruik om ander te help wat ook vasgevang is op die breë pad van die lewe. Ten slotte wil ek noem dat, God het my gehoor toe ek roep want Hy het my ou vader geken wat my gedurig voor Hom bely het. Ek glo ek is ook uit verkies deur Hom, maar ek moes deur die smeltkroes van die lewensvuur gaan en sodoende, het Hy my bruikbaar gemaak vir Sy Koninkryk. Ek het Sy liefde leer ken, ek het Sy vrede in my! God dank vir die fondasie wat my ouers gelê het en wees verseker, jou gebede vir jou kinders word soos wierook opgeneem in goue bakke na die troon van die Allerhoogste vir Sy Genade en Guns in hulle lewe.


Coram Deo

bottom of page