top of page

Moenie moeg word nie ...

Nita Kearney

Nehemía 8:11
Verder het hy vir hulle gesê: Gaan, eet lekker spys en drink soet dranke en stuur porsies aan hulle vir wie niks berei is nie; want hierdie dag is heilig aan onse HERE. Wees dan nie bedroef nie, want die blydskap in die HERE — dit is julle beskutting.

Waarom was die volk bedroef in Esra en Nehemia se tyd? Daar kon baie redes aangegee word. Dit was maar ‘n klein klompie van die volk wat teruggekeer het uit die ballingskap. Daar was maar min wat bereid was om skouer aan die wiel te sit om ‘n vervalle Jerusalem weer op te bou om moeisaam die rommel klip vir klip op te ruimn weer die tempel van voor af te bou. Groot moeite … baie groot moeite en die hande was maar min. Genoeg om enigiemand moedeloos te maak, genoeg om die klompie getroues tot trane te dryf. So is dit dan ook vandag in ons lewens, “so baie werk om te doen vir Hom, en so min hande”


As ons vandag in oënskou neem, dan sien ons dat elkeen besig is met sy of haar eie dinge, dinge van die lewe en daar is nooit genoeg tyd om aan te wend vir God se werk nie! Almal is net te besig! Het u dit al ondervind? Miskien wou U die woord met iemand deel, maar daar is net nie genoeg tyd nie? Die vraag is dan “moet ek gaan met leë hande, my Skepper te ontmoet?” Wanneer die onheil dreig van alle kante in ons lewens, dan soek ons skuiling by Hom wat ons Beskutting is, maar, “Hy ken ons nie” want daar was nooit tyd vir Hom in ons lewe nie! Andersins, as die seerkry van die lewe swaar op jou druk, as die kragte min word en die las al swaarder, dan, se Nehemia 8:12 “die blydskap van die Here is my beskutting”.


Ken Hom in al jou weë en Hy sal jou paaie gelykmaak Spreuke 3 :1-6. Al is die wêreld nie bereid om te luister na die Woord nie, al is hulle te besig, moet nooit jou arbeid in Hom laat vaar nie, hou aan met ‘n blymoedige Gees en wees in alles dankbaar! Hy sal dan jou beskutting word in al jou dae en jou nooit begewe en nooit verlaat nie. As dinge te moeilik raak, sing ‘n nuwe lied tot eer van Hom, besing sy Grootheid en Sy Genade en wees dankbaar vir Sy Genade in jou lewe! Dan sal jy Sy vrede ervaar en rus vind in Sy Genade! Mag dit jou deel wees in hierdie dag. Deo Volente


bottom of page