top of page

Voedsel vir die Siel

Nita Kearney

Sy behae is in die wet van die Here, en oor Sy wet peins hy dag en nag. Psalm 1:2

God se waarheid sal swaarder weeg as al sy teenstanders en oorleef. Soos die profeet Jesaja verkondig: “Die gras verdor, die blom verwelk, maar die woord van onse God sal vir ewig bestaan” (Jesaja 40:8). Soos die Psalter oopmaak, vind ons dat die geseënde persoon – die waarlik gelukkige een – hom verlustig in die blywende waarheid van God se woord.


Die woorde van die Here is vir hulle kosbaar; elke woord smaak soeter as heuning (Psalm 19:10). Tog verlustig so iemand hom nie net in die wet van die Here nie; hulle peins ook daaroor. Meditasie is soortgelyk aan die proses van vertering. Dit is moontlik, in fisiese terme, om net kos in jou mond te steek en niks daarmee te doen nie, maar dit sal niks van die voedingswaarde tot jou liggaam toevoeg nie. Ons waag dieselfde met God se woord as ons Sondag vir Sondag daarna luister en dag vir dag daarna verwys sonder opsetlike meditasie. Dikwels voel ons asof ons lewens teen 100 myl per uur verby jaag.


Daaglikse tyd in God se woord word 'n taak om te voltooi, om net om te sê ons het dit gedoen. In plaas daarvan moet ons maniere vind om God se woord in ons harte op te berg (Psalm 119:11). Ons moet bewustelik tyd neem om deur die dag te vra: “Wat beteken hierdie vers regtig? Hoe moet dit my gedagtes en optrede in hierdie situasie vorm? Wat wys dit my oor die heerlikheid van God? Hoe kan God dit gebruik om my na die beeld van Christus te vorm?”


Ons word nie geroep om aan die Skrifte te peusel nie, maar om daaraan te smul. Aangesien daar geen einde aan God se voortreflikhede is nie, is daar geen einde aan die rykdom van Sy woord nie. Wat sal dit vir jou beteken om daaroor te mediteer? Soek deur gebed die hulp van die Gees van God om jou hart en verstand die wysheid te gee. Oorweeg noukeurig wat die Bybel te sê het. Dink daaroor na. Ondersoek dit. Bedink dit deur die dag om soveel siel-voedende voedingstowwe as wat jy kan vry te stel. En terwyl jy oor die wet van jou Here peins, vra God om nie net jou kennis van Hom te vergroot nie, maar ook om jou van binne na buite te verander om meer soos Sy Seun te wees. Soos jy sien hoe Sy woord in jou hart en verstand en lewe werk, sal jy jou meer en meer verlustig in die lees daarvan en daarvolgens lewe.


Vergunning Alistair Begg / Truth for Life Ministries

bottom of page