top of page

Wees Dankbaar

Nita Kearney

1 THESSALONICENSE 5:18
Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.

Die vraag is, hoe kan mens dankbaar wees in lyding, in swaarkry of in siekte? Ek het ook daardie vraag dikwels gevra totdat ek saam met ‘n vriendin,  haar kanker stryd  saam met haar deur gegaan het as haar versorger. Dit was ‘n ander wêreld, onbekend vir my en daardie dag het ek die groot saal betree waar mense gesit het met chemo drips, sommige vir ‘n paar uur, ander vir die hele dag.

Lees minder

Ek onthou nog daardie dag, ek was verslae om soveel mense te sien met allerhande tipe kanker in verskillende fases en tog, my liewe leser, wat my die meeste getref het, was die vriendelikheid en die grootskaalse vertroue wat uit elkeen gestraal het. Hoe kan hulle so vriendelik lag en gesels? Kanker is ‘n ernstige siekte en lei dikwels tot die dood, het ek gedink. Ja, dit is so, maar ek het in die maande wat ek bystand gegee het, iets baie belangrik geleer, en dit is, deur hierdie donker stryd en lang eensame ure, was een ding duidelik sigbaar, hulle liefde vir God en hulle liefde vir mekaar. Ek het in my vriendin se lewe gesien, dat afgesien van die erns van haar kanker, het sy nogsteeds almal, moed in gepraat en haar vriendelikheid en haar liefde vir ander het ‘n groot verskil gemaak in die lewens van baie van hierdie mense.


So ook kan ek noem die stryd van my eie suster wat vasgekluister was in ‘n stoel om dialise te kry, 4 ure op ‘n tyd, net om aan die lewe te bly, met vaste vertroue dat Hy vir haar sal voorsien vir ‘n nier! Nooit ooit het ek haar hoor kla oor haar toestand nie, nooit het sy in opstand gekom te midde van haar situasie nie, nee, altyd ‘n glimlag, altyd ‘n vriendelike woord vir ander. Altyd opbeurend! Hoe, vra u, is dit moontlik? Die antwoord is maklik. Die woord in 1 Thes 5:18 vertel ons om in alles dankbaar te wees want dit is wat God van jou verwag. Ja, Hy het ‘n plan vir jou en my lewe, en as dit Sy wil is dat jy deur ‘n worsteling van soort moet gaan, dan is dit weereens, Sy Wil en deur jou siekte en jou leiding, sal jy ander aanraak, sonder dat jy ooit weet en hulle sal as gevolg van jou blydskap in Hom, nader getrek word aan die God wat Sy Hand oor jou het.


Alles wat met ons gebeur is in Sy plan en dit lei tot die uitbreiding van Sy Koninkryk deur die mense wat jy aanraak in jou lyding, wie dit ookal mag wees. Ek ken mense wat getuig dat deur die stryd van ‘n ander, het hulle geleer hoe groot die Genade is van Hom wat Soewerein is in alles. Dit het gelei tot hulle bekering in Hom. Ek het ook langs die bed gestaan van iemand wat besig was om te sterf, maar nogtans met groot liefde aan ons kon getuig, ‘Hy was met my al die dae van my lewe tot op my siekbed’ Mag God jou aanraak te midde van jou stryd en jou versterk want die liggaam moet vergaan, maar te midde daarvan, versterk jou gees in Hom daagliks in voorbereiding tot Sy Koninkryk!. FILIPPENSE 4:4-13 Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle!


bottom of page